Nuus 08:00
BULLETIN 13 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tony Leon verwelkom die DA se pas verkose jong leierskapsgroep
# Unite for Change gaan nie aan die komende plaaslikeregeringsverkiesing deelneem nie
# En die Hongaarse premier, Viktor Orbán, erken die nederlaag wat ‘n einde maak aan sy bewind van 16 jaar
# Die stigtersleier van die DA, Tony Leon, het die party se nuwe jong leierskapsgroep verwelkom en sê dit is ‘n hele verskuiwing. Die DA het nou een van die jongste groepe politieke leiers in Suid-Afrika, met die pas verkose leier Geordin Hill-Lewis wat 39 jaar oud is. Die nuwe leierskap staan voor die uitdaging om die party verder as sy huidige steunbasis te laat groei en teen 2029 die grootste party in die land te wees. Leon het aan die SABC gesê dat Hill-Lewis ‘n inklusiewe en empatiese leierskapstyl het:
# Unite for Change, ‘n politieke koalisie wat uit Build One South Africa, RISE Mzansi en die GOOD-party bestaan, sê hy het aansienlike vordering gemaak om die partye onder een vlag te verenig, maar het meer tyd nodig. Die partye het dus besluit om vanjaar afsonderlik aan die munisipale verkiesing deel te neem en later saam te werk. Unite for Change sê die partye sal mettertyd ʼn tussentydse samewerkingsmodel instel wat seker maak kiesers het toegang tot bekwame en toegewyde verkiesingskandidate.
# ʼn Intelligensie-gedrewe operasie deur die Gautengse polisie het gelei tot die ontdekking van ʼn vermeende dwelmlaboratorium in Sandton. Hulle het beslag gelê op chemikalieë, toerusting en dwelmprodukte ter waarde van 1,5-miljoen-rand. ʼn Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê ʼn saak van vermeende dwelmvervaardiging is vir verdere ondersoek geopen:
# Die eerste minister van Hongarye, Viktor Orbán, is na 16 jaar aan bewind uit die kussings gelig deur sy sentrumregs-teenstander, Péter Magyar. Met meer as 98-persent stemme getel, toon voorlopige uitslae dat Magyar se Tisza-party 138 setels kan wen, Orbán se Fidesz 55 en die verregse Ons Tuisland moontlik ses. President Donald Trump van Amerika het Orbán herhaaldelik ondersteun, en visepresident JD Vance het enkele dae voor die verkiesing na Boedapest gereis om sy ondersteuning te toon. Magyar beloof beter verhoudings met die Europese Unie en ʼn einde aan korrupsie.
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy Meesters-titel suksesvol verdedig en slegs die vierde speler geword wat die Augusta-Nasionaal twee keer na mekaar kon wen. Die 36-jarige speler het halfpad ʼn geskiedkundige voorsprong van ses houe gehad, maar was in ʼn dramatiese laaste ronde twee houe agter. Hy het egter op die laaste dag 71 geslaan om op 12 onder te eindig. Dit is een hou voor die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika. Vier spelers deel die derde plek. McIlroy sê dis ongelooflik wat hy vermag het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-101-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-714-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….