Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse joernaliste vra beskerming van mediapersoneel in Gaza
# Die DA eis Ramaphosa moet Mashatile afdank oor verdoemende bewerings
# En, tennis: Djokovic en Swiatek is steeds wêreld nommer een na die Australiese Ope
# Suid-Afrikaanse joernaliste het hul pleidooi herhaal vir die veiligheid en beskerming van mediapersoneel in Gaza. Die Committee to Protect-groep sê 83 joernaliste en mediawerkers het sedert sewe Oktober verlede jaar omgekom in die oorlog in Israel, die Besette Palestynse Gebiede en Libanon. Joernaliste het gisteraand deelgeneem aan nagwake in Johannesburg, Kaapstad, Durban en Makhanda. News24 se politieke en meningsredakteur, Qaanitah Hunter, het die belangrikheid beklemtoon van die veiligheid en vryheid van joernaliste om uit Gaza verslag te doen:
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om adjunkpresident Paul Mashatile af te dank en die Spesiale Ondersoekeenheid opdrag te gee om ondersoek in te stel na die verdoemende bewerings teen hom. Tydens Mashatile se ampstermyn as Gautengse LUR vir Menslike Nedersettings, het sy departement 134-miljoen-rand betaal aan ‘n onderneming van die ANC-skenker Edwin Sodi, vir ‘n behuisingsprojek in Diepsloot waar nie ‘n enkele huis gebou is nie. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê dit was net ‘n gedeelte van die altesaam 828-miljoen-rand wat die departement aan Sodi betaal het:
# Die Stad Johannesburg se noodbestuursdiens het gisteraand se aanval op drie brandbestryders in Eldoradopark se uitbreiding drie veroordeel. Die diens se woordvoerder, Robert Mulaudzi, sê die brandbestryders het op ʼn brand gereageer toe hulle ʼn groep inwoners teëkom wat oor dienslewering betoog. Hy sê hulle het die brandweerwa met klippe bestook en drie brandbestryders is beseer, wat inderhaas hospitaal toe geneem is.
# Tennis: Novak Djokovic van Serwië het die nommer een-posisie behou ondanks ‘n onverwagse nederlaag in die halfeindronde van die Australiese Ope. Daniil Medvedev van Rusland het die kans verbrou om die nmmer twee, Carlos Alcaraz van Spanje, verby te steek, ná sy nederlaag in die eindstryd in Melbourne, en is steeds derde. Hy word gevolg deur die kampioen, die Italianer Jannik Sinner, en Andrey Rublev van Rusland. Op die vroueranglys is Iga Swiatek van Pole steeds nommer een, met die kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, tweede en die Amerikaner Coco Gauff derde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-14-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die wêreld se grootste plesierboot, Icon of the Seas, het met ‘n nooiensvaart vanaf Miami in Florida, begin. Die reuseskip onderneem ‘n sewe dae lange vaart na die Karibiese Eilande . Die Icon of the Seas beskik oor 20 dekke en het ‘n maksimum vermoë van sewe-duisend-600 passasiers en twee-duisend-350 bemanningslede. Die plesierboot spog met ses waterglybane, sewe swembaddens, ‘n ysskaatsbaan, ‘n teater en meer as 40 eetplekke, kroeë en sitkamers. Die Icon of the Seas is vyf keer groter as die Titanic.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….