Nuus 07:00
BULLETIN 11 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontken betrokkenheid by Opod se Phala Plala-verslag
# Die VF Plus sê die waterverliese in Mangaung oorskry 1,6-miljard-rand
# En die uitvoerende hoof van SAL, John Lamola, tree uit
# President Cyril Ramaphosa het betrokkenheid by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se gedeklassifiseerde verslag oor die diefstal van tien-miljoen-rand op sy Phala Phala-plaas in Limpopo ontken. Ramaphosa wou nie in detail kommentaar lewer nie, aangesien die verslag tugstappe teen generaal-majoor Wally Rhoode aanbeveel oor beweerde onreëlmatighede in die hantering van die saak. Opod sê polisieprosedure is geminag tydens die informele herwinningsoperasie. Die president sê die proses moet sy verloop neem:
Die African Transformation Movement vra intussen vir ‘n onmiddellike ampsklag teen Ramaphosa. ATM voer aan die verslag wek ernstige kommer oor uitvoerende wangedrag, grondwetlike oortredings en moontlike strafregtelike oortredings wat verband hou met die plaasinbraak in 2020. Die verslag beweer ook dat ‘n misdaad toegesmeer is, die misbruik van staatsbronne en die versuim om ’n amptelike strafsaak aanhangig te maak.
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika betree nou die volgende fase van hervorming van die elektrisiteitsektor, wat daarop gemik is om die kragstelsel te moderniseer en meer beleggings te lok. Ramaphosa het in sy hoofrede by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga gesê Eskom sal sentraal bly om ‘n bestendige elektrisiteitsvoorsiening te verseker terwyl die sektor oopgestel word vir groter mededinging. Hy sê hervormings beoog om energiesekerheid te versterk, ekonomiese groei te ondersteun en elektrisiteitskoste mettertyd te verminder:
# Die Vryheidsfront Plus sê die Mangaung-munisipaliteit in die Vrystaat het die afgelope vyf jaar meer as twee-miljard-rand se water verloor. Volgens die party is die verliese grootliks te wyte aan lekkende infrastruktuur en dekades van swak onderhoud, met jaarlikse verliese wat die afgelope paar jaar skerp gestyg het. Armand Cloete van die VF Plus sê die munisipaliteit skuld Vaal Sentraal Water meer as 900-miljoen-rand. Cloete blameer swak toesig en vra vir beter finansiële bestuur en verbeterde dienslewering.
# Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, John Lamola, het met ingang van die einde van die maand bedank. News24 berig die uitvoerende hoof van Air Chefs, Matshela Seshibe, sal intussen as uitvoerende hoof waarneem. Die lugredery sê drie raadslede het ook om verskillende redes bedank. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en die SAL-raad het Lamola bedank vir sy leierskap, aangesien hy gehelp het om bedrywighede te bestendig en om die vloot en roetenetwerk uit te brei tydens die lugredery se herstelfase. ‘n Werwingsproses vir ‘n permanente uitvoerende hoof is nou aan die gang.
# En motorsport: Bespiegeling oor die viermalige Formule Een-wêreldkampioen Max Verstappen se toekoms het toegeneem nadat sy ingenieur, Gianpiero Lambiase, aangekondig het hy skuif in 2028 na McLaren. Die Nederlandse bestuurder en die Brits-Italiaanse ingenieur werk saam, sedert Verstappen 10 jaar gelede by Red Bull aangesluit het. Verstappen het tydens die wedren in Japan verlede maand daarop gesinspeel dat hy gereed is om uit te tree. Hy is tans negende in die bestuurderskompetisie met slegs 12 punte na die seisoen se eerste drie wedrenne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….