Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Bulle se Springbok-slot, Ruan Nortjé, gaan die klub die einde van die seisoen verlaat om in Japan te speel. Die 27-jarige het sy buiging in 2018 gemaak en die span 37 keer aangevoer, wat hom tiende op die kapteinskapslys plaas. Hy het tot dusver in 146 wedstryde vir die Bulle uitgedraf. Nortjé se vertrek volg op dié van die agterspeler David Kriel, wat na Frankryk verhuis, die Bok-stut Wilco Louw, wat by die Stormers aansluit, en die Bok-agterspeler Kurt-Lee Arendse, wat na Sagamihara DynaBoars in Japan terugkeer.
# Krieket: Lions Cricket en die veelsydige Beyers Swanepoel het ooreengekom dat hul paaie onmiddellik skei nadat hy in ‘n omstrede voorval ʼn plaaslike eindstryd verlaat het om ʼn vlug na Engeland te haal. Die 27-jarige speler het op 29 Maart in die Eendagbeker-eindstryd teen die Titans op Wanderers die veld verlaat met sewe boulbeurte oor. Sy voortydige vertrek sonder toestemming het sy span met tien spelers gelaat en die Lions het die wedstryd met drie paaltjies verloor. Swanepoel speel in die Engelse graafskap-seisoen vir Worcestershire.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Abongile Tom is aangewys as een van die wedstrydbeamptes vir die komende Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Nog ‘n plaaslike blaser, Zakhele Siwela, sal as assistent-skeidsregter optree. Altesaam 52 skeidsregters, 88 assistent-skeidsregters en 30 video-wedstrydbeamptes is gekies. Dit sal Tom se eerste Wêreldbekertoernooi wees en Siwela se derde nadat hy in 2018 en 2022 ook langs die veld was. Vanjaar se toernooi is die grootste ooit, met 48 spanne wat 104 wedstryde sal speel.
# Padwedlope: Die Paralimpiese medaljewenner en wêreldrekordhouer, Louizanne Coetzee, gaan môre naweek haar buiging maak in die Twee Oseane-marathon oor 56-kilometer. Sy sê sy is opgewonde, maar senuweeagtig om haar eerste ultra-marathon aan te pak, terwyl sy voortgaan om op die baan mee te ding. Coetzee sê die geleentheid sal help om ervaring op te bou voor die Paralimpiese Spele in Los Angeles. Sy sê korter ultra-wedlope is deel van haar voorbereiding om haar geestelik te versterk vir toekomstige marathons.
# En motorsport: McLaren se Australiese renjaer, Oscar Piastri, beskou die onverwagte onderbreking in die Formule Een-seisoen as ‘n kans om Mercedes se voorsprong te verklein. Sy Britse spanmaat, Lando Norris, het verlede jaar die wêreldkampioenskap gewen met Piastri derde, maar Mercedes oorheers tot dusver vanjaar en het die eerste drie wedrenne gewen. Die Midde-Oosterse konflik het gelei tot die kansellasie van die Grand Prix in Bahrein en Saoedi-Arabië en die seisoen sal eers vroeg volgende maand in Miami hervat. Piastri sê dit gee McLaren meer tyd om voor te berei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….