Nuus 12:00
BULLETIN 10 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA bekom OPOD se Phala Phala-verslag
# Die beleërde minister Tolashe moet voor die ANC se Integriteitskommissie verskyn
# En sokker: Twee Suid-Afrikaanse skeidsregters is op die finale lys van wedstrydbeamptes vir die Wêreldbekertoernooi
# ActionSA het die volledige verslag van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat bekom oor die gedrag van lede van die Presidensiële Beskermingseenheid in die nasleep van die Phala Phala-skandaal. Daar is bevind ‘n ondersoek deur die eenheid se hoof, Wally Rhoode, na die diefstal van miljoene dollar van president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo in 2020 het die voorval doelbewus verberg. Woordvoerder Michael Beaumont sê Rhoode is egter steeds in sy pos:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, gaan voor die party se Integriteitskommissie gedaag word. Sy het aan die Parlement gesê sy het twee luukse voertuie van Chinese amptenare as skenkings aan die ANC-Vroueliga aanvaar, maar dit wil voorkom of dit aan haar twee kinders gegee is vir hul persoonlike gebruik sonder dat dit verklaar is. Tolashe het dit ontken en sê sy is gereed om haar naam in ere te herstel. Mbalula sê sy kan ook vrywillig voor die komitee verskyn.
# Die Departement van Basiese Onderwys nooi die publiek uit om kommentaar te lewer op die nuwe konsep-leerplan en beoordelings-beleidsverklarings vir Geskiedenis van graad 4 tot 12. Die voorgestelde leerplan verskuif die fokus na Afrika-gesentreerde temas en vervang onderwerpe soos die Amerikaanse burgerregte-beweging in matriek en die Franse Revolusie in graad 10. Die departement se woordvoerder, Terrence Khala, sê ‘n ministeriële taakspan is aangestel om die leerplan te hersien:
# Die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, het die Kongres gevra vir ʼn openbare verhoor om beëdigde verklarings aan te hoor van die ontslape seksoortreder Jeffrey Epstein se slagoffers. Talle slagoffers van Epstein en sy medepligtige, Ghislaine Maxwell, het in September verlede jaar die Huis se oorsigkomitee gevra om die oortreders aanspreeklik te hou. Trump het tydens ʼn seldsame toespraak in die Withuis gevra vir deursigtigheid om die waarheid te ontbloot:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Abongile Tom is aangewys as een van die wedstrydbeamptes vir die komende Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Nog ‘n plaaslike blaser, Zakhele Siwela, sal as assistent-skeidsregter optree. Altesaam 52 skeidsregters, 88 assistent-skeidsregters en 30 video-wedstrydbeamptes is gekies. Dit sal Tom se eerste Wêreldbekertoernooi wees en Siwela se derde nadat hy in 2018 en 2022 ook langs die veld was. Vanjaar se toernooi is die grootste ooit, met 48 spanne wat 104 wedstryde sal speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-658-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-746-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….