Nuus 06:00
BULLETIN 10 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê sy verkiesingskongres sal die party se groei en institusionele volwassenheid weerspieël
# Solidariteit vra vir ‘n dringende einde aan buitensporige brandstoftariewe
# En Netanyahu het sy kabinet opdrag gegee om regstreekse onderhandelinge met Libanon te begin
# Die DA sê alles is gereed om die naweek ‘n suksesvolle, geloofwaardige en goed bestuurde verkiesingskongres by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand, Gauteng, te verseker. Meer as twee-duisend afgevaardigdes word by die kongres verwag, waar ‘n nuwe leier verkies sal word om John Steenhuisen te vervang. Die DA se voorsittende beampte van die Federale Kongres, Werner Horn, sê hulle sal beraadslaag oor belangrike organisatoriese en beleidsaangeleenthede, insluitend grondwetlike wysigings, beleidsresolusies en leierskapsverslae as kern van die versterking van bestuur en lewering:
# Die leier van die EFF, Julius Malema sê kiesers moet dienslewering en beleid bo persoonlikhede prioritiseer in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesings. Malema het aan die media gesê Suid-Afrika het optrede nodig oor kwessies soos swak dienslewering, slaggate en onwettige storting, nie uitbeeldings van mislukkings nie. Hy waarsku selfvoldaanheid en mislukking nie geduld sal word nie en het partylede aangespoor om aktief met gemeenskappe te skakel en te verseker dat plaaslike kwessies aangespreek word:
# Die vakbond Solidariteit doen ‘n beroep op brandstofmaatskappye om onmiddellik die buitensporige oorhoofse koste van tot drie rand per liter op diesel en een rand per liter op petrol te staak. Die vakbond waarsku dat hierdie koste aan verbruikers deurgegee word, met vulstasies wat dit nie kan absorbeer nie en groothandelaars wat hul monopolieposisies misbruik. Theuns du Buisson van Solidariteit doen ‘n beroep op brandstofmaatskappye om verantwoording te doen en belowe om voort te gaan om druk uit te oefen totdat die koste geskrap word.
# Die Gautengse polisie stel ondersoek in nadat twee mense gister in Ormonde, suid van Johannesburg, doodgeskiet en nog twee gewond is. Volgens berigte was een van die oorlede slagoffers na bewering ‘n plaaslike sakeman wat deur twee sekuriteitswagte begelei is terwyl hy kontant vervoer het toe die skietery plaasgevind het. Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê geen arrestasies is gemaak nie en die motief vir die skietery is onbekend:
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sê hy het sy kabinet beveel om met regstreekse gesprekke met Libanon te begin. Hy sê die fokus sal wees op die ontwapening van Hizbollah en die vestiging van vreedsame betrekkinge tussen die twee lande. Dit volg na die Israelse weermag se grootste aanval op Libanon, waartydens meer as 200 mense Woensdag dood is. Die weermag het meer as 100 sogenaamde Hizbollah-bevelsentrums en militêre terreine getref. Netanyahu sê hy het ‘n oproep deur die Libanese premier, Nawaf Salam, verwelkom om Beiroet te demilitariseer.
# Padwedlope: Die Paralimpiese medaljewenner en wêreldrekordhouer, Louizanne Coetzee, gaan hierdie naweek haar debuut maak in die 56-kilometer Twee Oseane-marathon. Coetzee sê sy is opgewonde, maar senuweeagtig om haar eerste ultra-marathon aan te pak, terwyl sy voortgaan om op die baan mee te ding. Sy sê die geleentheid sal help om ervaring op te bou voor die Paralimpiese Spele in Los Angeles. Coetzee sê korter ultra-wedlope is deel van haar voorbereiding om haar geestelik te versterk vir toekomstige marathons.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-72-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-762-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….