Nuus 17:00
BULLETIN 9 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bevraagteken swakhede in Tshwane se verkrygingstelsel
# Action Society stuur ‘n veldtog van stapel vir die publikasie van die seksoortrederregister
# En, Suid-Afrikaanse aandele is weer boaan die Bank of America se streeksranglys
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, het die Tshwane-metropolisie se direkteur van Bates, Tshukudu Malatji, bevraagteken oor swakhede in verkrygingstelsels wat toelaat dat tenderdokumente ná voorlegging gewysig word. Malatji het getuig oor ‘n beweerde tenderonreëlmatigheid van 2,9-miljard-rand en verduidelik hy het geen kennis gedra van oortredings nie. Hy het egter hand-liasseerstelsels en oop toegang tot dokumente as moontlike gevare uitgelig. Malatji het oorskakeling na ‘n elektroniese stelsels voorgestel om ‘n gepeuter te voorkom en deursigtigheid te verbeter:
# Action Society het ‘n nasionale veldtog van stapel gestuur wat ouers aanspoor om te eis dat die Nasionale Register vir Seksoortreders onmiddellik gepubliseer word. Hulle het ‘n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien en ouers aangespoor om aan die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, te skryf. Woordvoerder Juanita du Preez sê daar is jaarliks meer as 26-duisend seksuele misdrywe teen kinders in Suid‑Afrika:
# Suid-Afrika se aandelemark het die hoogste posisie in Bank of America se jongste streeksranglys behaal. Die verslag plaas die land voor eweknieë in Oos-Europa, die Midde-Ooste en Afrika, en verwys na sterk dividende en aantreklike waardasies. Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel sê die ranglys weerspieël die veerkragtigheid van plaaslike markte teen globale druk. Amptenare hou vol voortgesette ekonomiese hervormings sal Suid-Afrika se aantrekkingskrag as ‘n gesogte bestemming vir internasionale beleggers verhoog.
# Duikers van die Meksikaanse weermag het ‘n mynwerker uit ‘n oorstroomde ondergrondse tonnel gered twee weke nadat hy vasgekeer is. Francisco Zapata Nájera was 300 meter ondergronds vasgekeer nadat ‘n wal by die goudmyn in die noordelike staat Sinaloa ineengestort het. Die soektog duur voort om ‘n ander mynwerker wat steeds vermis word op te spoor. Die Meksikaanse president Claudia Sheinbaum het die weermag en Zapata se geloof en veerkragtigheid geprys en gesê dit is wat die merkwaardige redding moontlik gemaak het. Daar was 25 werkers in die goudmyn toe die slykdam op 25 Maart gebars het.
# Motorsport: Die Red Bull ingenieur, Gianpiero Lambiase, het aangekondig hy gaan in 2028 na McLaren skuif. Die Brit was ingenieur vir die viermalige Formule Een-wêreldkampioen Max Verstappen van Nederland, en skuif na ‘n ondersteunende rol vir spanhoof Andrea Stella. Lambiase is die derde senior lid van die Red Bull-span die afgelope tyd wat na McLaren skuif. Rob Marshall het in 2024 die hoof-ontwerper geword en Will Courteney het voor hierdie seisoen die sport-direkteur geword.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-124-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-751-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….