Nuus 11:00
BULLETIN 29 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het ‘n plig om op te staan vir geregtigheid en menseregte
# Die GOOD Party beskuldig die DA-leier dat hy misdaadsyfers in die Wes-Kaap wanvoorstel
# En tennis, Novak Djokovic en Iga Swiatek behou hulle wêreldnommer een-posisies ná die Australiese Ope
# President Cyril Ramaphosa sê as ‘n nasie wat apartheid beveg en oorwin het, het Suid-Afrika ‘n besondere plig om op te staan vir geregtigheid en basiese menseregte. Hy kyk in sy weeklikse nuusbrief terug na Suid-Afrika se merkwaardige oorwinning in die Internasionale Geregshof, waar Israel gelas is om die moord op en benadeling van mense in Gaza te voorkom. Ramaphosa doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om saam te staan en die regering se oproep vir geregtigheid vir die Palestynse volk te steun, en vir ‘n onderhandelde skikking wat sal lei tot vrede wat wedersyds deur Israeli’s en Palestyne aanvaar sal word.
# RISE Mzansi sê hy sal nie toegee aan intimidasie nie, want hy bied ‘n alternatief vir die gevestigde politieke orde wat nie daarin kon slaag om ‘n veilige, voorspoedige, gelyke en verenigde Suid-Afrika te bou nie. Die party het gereageer omdat sy organiseerders en vrywilligers gedreig en sy verkiesingsplakkate landwyd vernietig word. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die party het die gevestigde politieke orde geskud en gevolglik wend teenstanders hulle tot vuil taktiek om dié groeiende beweging te probeer onderdruk:
# Die GOOD Party sê die DA-leier, John Steenhuisen, wil hê mense moet glo moord in die DA-geleide Wes-Kaap het weens sy party se briljantheid met 40-persent afgeneem. Volgens nasionale misdaadstatistiek wat einde November vrygestel is, het die provinsiale moordsyfer met byna 11-persent gestyg. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Steenhuisen buit mense se lyding onder verkeerde misdaadsyfers skaamteloos uit om voor die verkiesing ‘n vals voordeel vir sy party te skep:
# Die Britse regering gaan weggooibare dampstokkies verbied, as deel van ‘n poging om op te tree teen die toenemende aantal kinders wat damprook. Syfers van die Action on Smoking and Health-liefdadigheidsorganisasie dui daarop dat 7,6-persent van elf- tot 17-jariges nou gereeld of af-en-toe damprook, teenoor 4,1-persent in 2020. Die regering het verlede jaar ‘n verbod ingestel op die verkoop van sigarette aan enigiemand wat op of na een Januarie 2009 gebore is. Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, sê die regering tree beslissend op om weggooibare dampstokkies te verbied:
# Tennis: Novak Djokovic van Serwië het die nommer een-posisie behou ondanks ‘n onverwagse nederlaag in die halfeindronde van die Australiese Ope. Daniil Medvedev van Rusland het die kans verbrou om die nmmer twee, Carlos Alcaraz van Spanje, verby te steek, ná sy nederlaag in die eindstryd in Melbourne, en is steeds derde. Hy word gevolg deur die kampioen, die Italianer Jannik Sinner, en Andrey Rublev van Rusland. Op die vroueranglys is Iga Swiatek van Pole steeds nommer een, met die kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, tweede en die Amerikaner Coco Gauff derde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-220-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….