Nuus 16:00
BULLETIN 9 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as vier-duisend wit Afrikaners het hervestig ingevolge die Amerikaanse vlugtelingprogram
# Israelse aanvalle op Libanon stel die Midde-Oosterse skietstaking in gevaar
# En rugby: Nortjé keer terug na die Blitsbokke vir die Sewestoernooi in Hongkong
# Meer as vier-duisend wit Afrikaners het reeds in Amerika aangekom ingevolge ‘n omstrede vlugtelingprogram van president Donald Trump. ‘n Dokument van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se Buro vir Bevolking dui aan meer as vier-duisend-400 Suid-Afrikaners is in 48 state hervestig tussen Oktober 2025 en verlede maand. Die meeste aankomelinge was in Februarie en Maart vanjaar, met meer as een-duisend-300 mense wat elke maand hervestig is. Die Trump-administrasie regverdig die besluit deur te beweer die minderheid worstel teen volksmoord, maar die Suid-Afrikaanse regering verwerp dit ten sterkste.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, waarsku die konsep-Verklikkerswetsontwerp maak voorsiening dat ‘n verklikker se beskerming herroep kan word indien dit oneerlik aangewend of die stelsel misbruik word. Sy het gepraat tydens die wetsontwerp se vrystelling vir openbare kommentaar, wat tot 14 Mei oop is. Kubayi sê vergelding word verbied en werkgewers moet bewys openbaarmakings word beskerm:
# Die DA gaan parlementêre prosesse gebruik om die redes vir die enorme agterstand in voorbehoue uitsprake te ondersoek. Volgens ‘n verslag van die hoofregter se kantoor is daar een-duisend- 657 uitstaande voorbehoue uitsprake in hoër howe. Meer as 300 is meer as ses maande uitstaande. Glynnis Breytenbach van die DA sê hierdie agterstand keer dat Suid-Afrikaners toegang tot geregtigheid kry en vernietig openbare vertroue in die regstelsel:
Nuus uit die buiteland:
# Israel het vandag nog teikens in Libanon gebombardeer, wat die skietstilstand in die Midde-Ooste verder in gevaar stel nadat sy hewige aanvalle reeds meer as 250 lewens geëis het. Iranse onderhandelaars gaan na verwagting later vandag na Pakistan vertrek vir die eerste vredesgesprekke in die oorlog, waar hulle Saterdag ‘n afvaardiging onder leiding van die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sal ontmoet. Washington sê Libanon vorm nie deel van die skietstilstand nie, maar Iran en die bemiddelaar, Pakistan, sê dit was uitdruklik deel van die wapenstilstands-ooreenkoms.
# Rugby: Die voorste drie-drukker Quewin Nortjé keer terug na die Blitsbokke vir volgende naweek se sewestoernooi in Hongkong. Suid-Afrika het reeds verlede maand die gewone reekstitel in New York beklink. Volgende is die wêreldkampioenskaps-geleenthede in die Chinese gebied, Valladolid in Spanje en Bordeaux in Frankryk voor ‘n algehele kampioen gekroon word. Nortjé is ingespan nadat Christie Grobbelaar, Dewald Human en Gino Cupido beseer is. Die Blitsbokke pak Argentinië, Spanje en Uruguay in Groep A in Hongkong.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-74-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-740-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….