Nuus 15:00
BULLETIN 9 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Sesjarige meisie is gewond in kruisvuur in Kaapstad ondanks die ontplooiing van Weermaglede
# SANAC beywer hom vir die plaaslike produksie van die nuwe MIV-middel Lenacapavir
# En padwedlope: Gerda Steyn mik na haar sewende Twee Oseane-kroon
# ‘n Sesjarige meisie is in die kop geskiet toe sy in bende-kruisvuur vasgevang is in Valhallapark, Kaapstad. Die voorval volg te midde van voortdurende geweld op die Kaapse Vlakte, al is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi om polisie-operasies te ondersteun. Owerhede sê die Weermag moet help om die toenemende bendeverwante skietery in brandpuntgebiede te bekamp, maar onlangse voorvalle beklemtoon voortgesette veiligheidskwessies. Gemeenskappe bepleit sterker ingryping om inwoners te beskerm.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale VIGS-Raad, SANAC, het die aankoms van die eerste besending van die nuwe MIV-voorkomingsmiddel, Lenacapavir, verwelkom. Die Globale Fonds het 37-duisend-920 dosisse van die inspuiting geskenk, wat twee keer per jaar aan MIV-negatiewe mense toegedien word. Nelson Dlamini van die raad sê hulle werk aktief saam met sleutel-belanghebbendes oor onder meer lisensiëring vir die plaaslike vervaardiging van Lenacapavir:
Intussen eis Forum for South Africa volle deursigtigheid oor die bekendstellingsvennote van die voorkomingsmiddel en sy verspreidings-agentskappe. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê as ‘n inspuitbare voorkomingskeuse word daar verwag dat Lenacapavir meer voorkomingskeuses sal bied en nakoming sal verbeter, veral onder kwesbare groepe:
# Binnelandse Sake het byna 110-duisend onwettige immigrante deporteer sedert die regering van nasionale eenheid gevorm is. Die departement noem voortdurende pogings om immigrasiewette af te dwing, grensbeveiliging aan te pak en openbare veiligheid te handhaaf. Woordvoerder André Gaum beklemtoon deportasies vorm deel van ‘n breër strategie om ongedokumenteerde migrasie te bestuur en die oppergesag van die reg te handhaaf. Hy sê die syfer beklemtoon die omvang van Suid-Afrika se ongedokumenteerde bevolking en die regering se voortgesette fokus op die bekamping daarvan.
# Padwedlope: Suid-Afrika se langafstand-koningin, Gerda Steyn, het die naweek haar oog op ‘n sewende Twee Oseane-marathonkroon en sê sy gebruik verwagting as ondersteuning om haar selfvertroue te versterk. Sy het die ikoniese padwedloop oor 56-kilometer in 2016 die eerste keer aangedurf en, vir haar, in ‘n teleurstellende 14de plek klaargemaak, maar sedertdien elke keer gewen wanneer sy deelgeneem het. Die 36-jarige Steyn sê as sy Saterdag wen, sal dit ʼn droom wees wat waar word. Sy hou sedert 2024 die rekord van drie-uur-26-minute-54-sekondes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-126-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-742-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….