Nuus 14:00
BULLETIN 9 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die oortreding van die Verklikkerswetsontwerp kan tot tronkstraf lei
# Pous Leo vertrek op ‘n besoek aan vier Afrikalande
# En padwedlope: Fordyce waarsku atlete om nie mislei te word deur die stadige begin van die Twee Oseane-marathon nie
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê oortredings soos die verberging van bewyse, die onwettige openbaarmaking van identiteit en die viktimisering van verklikkers, sal strafbaar wees ingevolge die konsep-Verklikkerswetsontwerp. Sy het dit vrygestel vir openbare kommentaar en gesê oortreders kan tronkstaf van tot 15-jaar verwag. Kubayi beklemtoon doelbewuste blootstelling van identiteit sal ernstige gevolge inhou, aangesien die regering mense beskerm wat korrupsie en oortredings aanmeld:
# Die Gautengse Onderwysdepartement beraam die herstelkoste aan Riverlea Secondary School in Johannesburg op 45-miljoen rand. Dis Dinsdag in ‘n brand verwoes en ongeveer 700 leerders se klasse is ontwrig. Daar was ook vorige brande, insluitend in April verlede jaar en in 2007, wat ‘n kommerwekkende patroon uitlig. LUR Lebogang Maile sê strukturele inspeksies word gedoen en waarsku teen tydelike klaskamers. Hy beklemtoon die skool se infrastruktuur-uitdagings moet vinnig aangepak word:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die wysigings aan die Wet op die Staatsdiens om sterker bestuur en verantwoordbaarheid te bevorder. Woordvoerder Claude Naicker beklemtoon die hervorming van meriete-gegronde aanstellings en die uithou van politiek uit die Staatsdiens. Hy sê daar is ‘n behoefte aan groter betrokkenheid by ontslane werknemers en oorbetalings. Naicker sê raadpleging, behoorlike inwerkingstelling, opleiding en duidelike kommunikasie is noodsaaklik vir die beskerming van staatsamptenare en beter dienslewering:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo vertrek Maandag op ‘n besoek van tien dae aan vier Afrikalande om aandag te gee aan die behoeftes van die vasteland waarop meer as ‘n vyfde van die wêreld se Katolieke woon. Dis sy eerste groot oorsese besoek vanjaar. Die pous sal byna 18-duisend kilometer reis deur elf stede en dorpe in Algerië, Kameroen, Angola en Ekwatoriaal-Guineë. Amptenare van die Vatikaan en kerkleiers van Afrika sê die toer is ‘n persoonlike voorkeur vir die eerste Amerikaanse pous.
# Padwedlope: Die beroemde Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Bruce Fordyce, het atlete gewaarsku om nie mislei te word deur die stadige begin van die naweek se Twee Oseane-marathon in Kaapstad nie. Hy het die wedloop oor 56-kilometer 32 keer voltooi en die halfmarathon oor 21,1-kilometer ‘n verdere vyf keer, en ook die ikoniese Comrades-marathon ‘n rekord nege keer gewen. Die 70-jarige Fordyce sê atlete moet stadig begin gedurende die maklike eerste helfte en energie spaar vir die moeilike tweede helfte wat Chapmanspiek en Constantia-nek insluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-421-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-738-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….