Nuus 13:00
BULLETIN 9 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe Verklikkerswetsontwerp brei staatsbeskerming vir verklikkers uit
# Die DA vra minister Motsoaledi vir ‘n volledige bekendstellingsplan vir Lenacapavir
# En atletiek: Die baan van Rio se Olimpiese stadion spring brandskade vry
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die Wetsontwerp op Beskermde Openbaarmaking sal staatsbeskerming vir verklikkers uitbrei, insluitend hervestiging, identiteitsbeskerming en veiligheidsmaatreëls. Sy het tydens die bekendstelling van die konsepwetsontwerp gesê die rol van getuiebeskermings-eenhede word uitgebrei en toegang tot regshulp op staatskoste word aangebied. Sy het ook ‘n nuwe klagte-meganisme aangekondig vir gevalle van vergelding of versuim om op te tree:
# Die DA gaan die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, vra om ‘n volledige bekendstellingsplan en tydlyn oor Lenacapavir sowel as vordering met die instelling daarvan aan die Parlement voor te lê. Die eerste voorraad van die nuwe MIV-voorkomingsmedisyne het in Suid-Afrika aangekom. Die Globale Fonds het byna 38-duisend dosisse van die inspuiting geskenk. Die DA-lid, Michéle Clarke, sê dis ‘n belangrike stap vorentoe in die stryd teen MIV:
# Volkswagen-groep Afrika het die vervaardiging van sy 500-duisendste Polo vir die uitvoermark aangekondig. Die ysblou voertuig met regterhandstuur is op die Kariega-aanleg se produksielyn in die Oos-Kaap vervaardig en is bestem vir Brittanje, een van die groep se belangrikste uitvoermarkte. Die huidige model is vanaf 2021 in produksie op die aanleg. Dit neem gemiddeld drie dae om een motor te bou, met ongeveer een-duisend-400 onderdele wat gebruik word. Vier geslagte Polo’s is die afgelope 30-jaar op Kariega vervaardig.
# Atletiek: Die baan van die Olimpiese stadion in Rio de Janeiro, Brasilië, waar 2016 se Spele aangebied het, is nie beskadig in gister se brand nie. Tientalle brandbestryders het reageer op die brand in die stadion wat die Olimpiese Museum huisves wat uitstallings en gedenkwaardhede van die Spele bevat. Geen beserings is aangemeld nie, en die brand het nie na ander dele van die kompleks versprei nie. Die stadion se dak het in 2017 ook twee keer aan die brand geslaan, en albei voorvalle is deur vallende luglanterns veroorsaak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-250-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-732-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Sowat ‘n duisend leerders van die Lilanga High School in Diepdale, Mpumalanga, deel twee oorvol puttoilette, wat ernstige gesondheids- en waardigheidskwessies veroorsaak. Die probleem bestaan reeds jare en duur voort ondanks die 1,6-miljoen-rand wat in 2020 toegewys is vir opgraderings, wat nooit gedoen is nie. Kenners sê swak beplanning en onderbefondsing vertraag sanitasieverbeterings. Leerders maak glo gebruik van nabygeleë bosse of bure se toilette. Die Onderwysdepartement noem waterskaarste as ‘n bydraende uitdaging, en sê die munisipaliteit verskaf slegs weekliks water.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….