Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Stormers-slot Salmaan Moerat verlaat die klub aan die einde van die seisoen om ‘n geleentheid in Frankryk te aanvaar. Hy is voorheen verbind met oordrag na die Top 14-span, La Rochelle. Moerat het in 2018 sy buiging vir die Stormers gemaak teen die Highlanders in Dunedin en 70 keer vir die span uitgedraf. Hy was die afgelope twee seisoene die kaptein. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê dit gee Moerat se gesin kans om finansiële sekerheid te bereik wat nie in Suid-Afrika moontlik is nie.
# Padwedlope: Die beroemde Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Bruce Fordyce, het atlete gewaarsku om nie mislei te word deur die stadige begin van die naweek se Twee Oseane-marathon in Kaapstad nie. Hy het die wedloop oor 56-kilometer 32 keer voltooi en die halfmarathon oor 21,1-kilometer ‘n verdere vyf keer, en ook die ikoniese Comrades-marathon ‘n rekord nege keer gewen. Die 70-jarige Fordyce sê atlete moet stadig begin gedurende die maklike eerste helfte en energie spaar vir die moeilike tweede helfte wat Chapmanspiek en Constantia-nek insluit.
# Gholf: Die plaaslike speler Gary Woodland mag sy eie sekerheidspersoneel saambring tydens die Amerikaanse Meesterstoernooi wat vandag op Augusta in Georgië afslaan. 2019 se Amerikaanse Ope-kampioen het in September 2023 ‘n operasie ondergaan om ‘n goedaardige breingewas te verwyder. Dit was ‘n sukses, maar het hom met post-traumatiese stres-sindroom gelaat. Een van die newe-effekte is hiper-waaksaamheid, wat hom uiters versigtig maak, veral tussen baie mense. Woodland het gekwalifiseer toe hy verlede maand die Houston-ope gewen het.
# Motorsport: Senior tegnici van Formule Een-spanne en die vervaardigers van krageenhede gaan vandag vergader oor moontlike aanpassings aan die nuwe regulasies vir dié seisoen. Van die renjaers het kritiek uitgespreek oor die nuwe regulasies vir die krageenhede, wat ‘n verdeling van 50-persent tussen elektriese uitset en binnebrand-uitset het. Die Internasionale Outomobiel-federasie, wat motorsport wêreldwyd beheer, sê enige moontlike verstellings, veral dié wat energiebestuur raak, vereis versigtige nabootsing en ‘n omvattende ontleding.
# En Wêreld-Atletiek het die Diamantliga se eerste byeenkoms van die seisoen in Doha, Katar, uitgestel weens die konflik in die Midde-Ooste. Die geleentheid wat op 8 Mei sou plaasvind, is tot 19 Junie uitgestel, indien toestande gunstig sou wees. Wêreld-Atletiek sê die besluit is geneem weens kommer oor deelnemers en toeskouers se veiligheid. Vanjaar se Diamantliga-reeks begin nou op 16 Mei in Keqiao, China. Die reeks vind op 15 plekke plaas, insluitend Katar, China, Marokko, Italië, Swede, Pole en België.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….