Nuus 12:00
BULLETIN 9 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump rig ‘n nuwe waarskuwing aan Iran voor samesprekings
# Die Verklikkerswetsontwerp sal beskerming teen korrupsie versterk
# En motorsport: F1 se tegniese hoofde vergader oor moontlike aanpassings aan die nuwe regulasies
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, waarsku militêre lugaanvalle sal hewiger as ooit tevore wees indien ‘n ooreenkoms met Iran nie bereik word tydens die naweek se gesprekke in Islamabad, Pakistan, nie. Teheran beskuldig Amerika en Israel dat hulle die skietstilstand geskend het toe Israel gister ‘n grootskaalse lugaanval teen Libanon geloods het waarin byna 200 mense dood is. Trump sê op Truth Social die Weermag se voortgesette teenwoordigheid in Iran is gepas en noodsaaklik vir die vervolging en vernietiging van ‘n reeds wesenlik vernederde vyand.
Die kulturele konsulaat van die Iranse ambassade in Suid-Afrika verwelkom die wapenstilstand en sê ware veiligheid in die Midde-Ooste kan nie op die oorheersing van oorlog gebou word nie. Hy sê hoewel die oorlog lyding meegebring het, het dit ook die diepgaande vermoë van die Iranse volk getoon om hul soewereiniteit met waardigheid te verdedig. Die konsulaat voeg by Teheran is steeds verbind tot ‘n billike dialoog en die nastrewing van blywende vrede.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die Wetsontwerp op Beskermde Openbaarmaking, bekend as die Verklikkerswetsontwerp, sal beskerming versterk vir mense wat korrupsie blootlê. Sy het tydens die vrystelling van die konsep-wetsontwerp gesê bevindings van die Zondo-kommissie het leemtes in huidige wette uitgelig wat verkikkers kwesbaar laat en lei tot ontslag, intimidasie en selfs sterftes. Kubayi beklemtoon die wetsontwerp will verslagdoeningstelsels verbeter en openbaarmakings ondersteun:
# Motorsport: Senior tegnici van Formule Een-spanne en die vervaardigers van krageenhede gaan vandag vergader oor moontlike aanpassings aan die nuwe regulasies vir dié seisoen. Van die renjaers het kritiek uitgespreek oor die nuwe regulasies vir die krageenhede, wat ‘n verdeling van 50-persent tussen elektriese uitset en binnebrand-uitset het. Die Internasionale Outomobiel-federasie, wat motorsport wêreldwyd beheer, sê enige moontlike verstellings, veral dié wat energiebestuur raak, vereis versigtige nabootsing en ‘n omvattende ontleding.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-985-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-721-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Drukgroep teen alkoholmisbruik, Rethink Your Drink, is bemoedig deur navorsing wat toon dat Suid-Afrikaners – veral jong volwassenes – ook die wêreldwye neiging begin volg om minder te drink. Worldpanel by Numerator sê 30-persent van Suid-Afrikaanse verbruikers het aangedui hulle wil minder drink – byna dubbel die wêreldsyfer van 17-persent. Woordvoerder Kashifa Ancer sê mense raak deesdae meer berekend oor hoeveel en wanneer hulle drink, eerder as om heeltemal op te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….