Nuus 11:00
BULLETIN 9 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Malatsi sê die regering probeer om die Suid-Afrikaanse Poskantoor finansieel bestendig te maak
# Die MK-party doen regstappe teen Batohi se besluit om aanklagte teen Johan Booysen en Johannes van Tonder terug te trek
# En motorsport: F1 se tegniese hoofde vergader oor moontlike aanpassings aan die nuwe regulasies
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê sy departement oorweeg openbaar-privaat vennootskappe om die Suid-Afrikaanse Poskantoor te versterk en finansieel bestendig te maak. Na jare in sakeredding is ongeveer 350-miljoen-rand nodig om dit nog vir ses maande aan die gang te hou. Die sakereddingpraktisyns sê sonder fondse is hulle wettig verplig om vir bankrotskap aansoek te doen, maar Malatsi het aan die SABC gesê hulle probeer dit vermy:
# Die MK-party het regstappe ingestel teen die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi. Hy vra die terugtrekking van die besluit van 2019 om aanklagte van afpersing te laat vaar teen die voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen, en sy medebeskuldigde, Johannes van Tonder. MK se adjunkpresident, John Hlophe, betoog voor die Hooggeregshof in Pretoria Batohi se besluit het berus op ‘n paneelverslag sonder enige onafhanklike evaluering van die bewysrekord. Hy sê die Nasionale Vervolgingsgesag moes ook nie skikkingsooreenkomste met die twee gesluit het nie.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die Departement van Gesondheid om die ondersteuningstelsels vir mediese interns en gesondheidswerkers te versterk. Dit volg op die dood van ‘n jong dokter van die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela, Mpumalanga. Die intern is Sondag dood aangetref in sy woonstel, maar die oorsaak is nog nie bekend nie. Nomfundo Mlangeni van die vakbond sê die voorval beklemtoon die behoefte aan beter geestesgesondheids-ondersteuning in hoëdruk-omgewings.
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se visepresident, JD Vance, sê Iran sal dom wees om die skietstilstand van twee weke met Washington in gevaar stel oor Israel se aanvalle in Libanon. Minstens 182 mense is dood in gister se vlaag aanvalle. Amerika en Israel hou vol Libanon is nie deel van die skietstilstands-ooreenkoms nie, maar Iran verskil, en die bemiddelaar, Pakistan, sê Libanon is wel ingesluit. Vance sê dis ‘n geldige misverstand:
# Motorsport: Senior tegnici van Formule Een-spanne en die vervaardigers van krageenhede gaan vandag vergader oor moontlike aanpassings aan die nuwe regulasies vir dié seisoen. Van die renjaers het kritiek uitgespreek oor die nuwe regulasies vir die krageenhede, wat ‘n verdeling van 50-persent tussen elektriese uitset en binnebrand-uitset het. Die Internasionale Outomobiel-federasie, wat motorsport wêreldwyd beheer, sê enige moontlike verstellings, veral dié wat energiebestuur raak, vereis versigtige nabootsing en ‘n omvattende ontleding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-73-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-715-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….