Nuus 08:00
BULLETIN 9 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê die regering het die belangrikste hindernisse vir beleggings uit die weg geruim
# ActionSA sê die Presidensie sloer met sy leefstyloudits
# En rugby: Salmaan Moerat verlaat die Stormers vir ‘n geleentheid in Frankryk
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die regering probeer ‘n omgewing skep wat gunstig is vir belegging. Hy het die globale dinkskrum, The European House – Ambrosetti CEO Community – African Chapter, gister in Sandton, Johannesburg, toegespreek. Tau sê die regering het daarin geslaag om kwessies wat belegging verhinder, aan te spreek. Dit sluit groei in bruto binnelandse produk en ʼn einde aan beurtkrag in. Die minister sê energie, minerale en groen nywerhede is belangrike sektore wat die Suid-Afrikaanse ekonomie sal aandryf.
# ActionSA sê hy is bekommerd oor die oponthoud met die publisering van die Kabinet se prestasie-ooreenkomste en die leefstyl-oudits wat President Cyril Ramaphosa belowe het. Ramaphosa sê in ‘n verklaring in reaksie op die parlementêre leier van ActionSA, Athol Trollip, hulle is nog besig met die leefstyl-oudits. Dit volg nadat 24 amptenare in die Presidensie uitgewys is vir onverklaarde of versteekte bates. Trollip sê die ouditproses – wat reeds in in 2024 begin is – moes reeds afgehandel gewees het.
# Die ANC in die Wes-Kaap verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om die Bitou-munisipaliteit se onderburgemeester, Nokuzola Kolwapi, amptelik aan te kla. Dit volg na ʼn video van Desember 2025 waar Kolwapi al dansende ʼn vuurwapen rondswaai en talle skote afvuur. Sy sê dit was ʼn speelgoed-vuurwapen. Die ANC se streekswoordvoerder, Moyisi Magalela, sê Kolwapi se optrede om ʼn vuurwapen in die openbaar af te vuur, is ʼn misdaad:
# Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê daar lê baie werk voor om die belangrike Straat van Hormoes te heropen, ten spyte van die skietstilstandooreenkoms van twee weke tussen Amerika en Iran. Iran se Rewolusionêre Wagkorps sê skeepvaart deur die seestraat het gestop nadat Israel na bewering die skietstilstand in Libanon verbreek het. Starmer het gister tydens ʼn besoek aan Saoedi-Arabië gesê die skeepvaartbedryf moet vertroue hê dat hy veilig deur die Straat van Hormoes kan vaar:
# Rugby: Die Stormer-slot Salmaan Moerat verlaat die klub aan die einde van die seisoen om ʼn geleentheid in Frankryk te aanvaar. Hy was voorheen betrokke by die Top 14-span, La Rochelle. Moerat het in 2018 sy debuut by die Stormers gemaak in ʼn wedstryd teen die Highlanders in Dunedin en 70 keer vir die span uitgedraf. Hy was die afgelope twee seisoene die Stormers se klubkaptein. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê dit gee Moerat se gesin kans om finansiële sekuriteit te bereik wat nie in Suid-Afrika moontlik is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-en-2-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-709-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 942-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….