Nuus 07:00
BULLETIN 9 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof sê die Phala Phala-uitspraak sal binne ‘n maand gelewer word
# MISA eis dringende regeringsingryping oor stygende paraffienpryse
# En atletiek: Die Diamantliga-openingseremonie in Doha is uitgestel weens die Midde-Oosterse konflik
# Die Konstitusionele Hof sê uitspraak oor die Parlement se hantering van die Phala Phala-saak sal binne ‘n maand gelewer word. Die EFF het die hof in 2024 genader om die Parlement se besluit in Desember 2022, om nie die Artikel 89-paneel se verslag te aanvaar nie, uit te daag. Volgens dié verslag het president Cyril Ramaphosa ʼn prima facie-saak om te beantwoord. Dit hou verband met die inbraak op sy Phala Phala-plaas in Limpopo in Februarie 2020. Die EFF sê dis duidelik dat die Konstitusionele Hof toegee aan politieke druk.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra die regering vir dringende verligting van paraffienpryse, wat met 11-rand-67 sent per liter gestyg het. MISA waarsku die prysstyging bedreig miljoene lae-inkomste huishoudings wat op paraffien staatmaak vir kook, verhitting en beligting. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging sê versuim om op te tree kan energie-armoede en voedselonsekerheid vererger, wat kwesbare gesinne met selfs moeiliker lewensomstandighede kan laat:
# Adjunkpresident Paul Mashatile lewer vandag die hoofrede by die tweede jaarlikse Gautengse Beleggingskonferensie by die Marriott Hotel in Melrose Arch. Die konferensie se doel is om beleggings te lok, nywerhede te bevorder en inklusiewe ekonomiese groei te versnel. Die provinsiale regering wil sowat 200-miljard-rand se nuwe beleggingsbeloftes kry, wat deel is van die provinsie se strategie om binne drie jaar 800-miljard-rand se nuwe beleggings te lok. Verlede jaar se konferensie het ongeveer 312,5-miljard-rand se beloftes in sektore soos landbouverwerking, vervoer, infrastruktuur, eiendomsontwikkeling en lugvaart ontvang.
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het 22-miljoen-rand se steun met voer goedgekeur vir veeboere wat geraak word deur langdurige droë weidingstoestande. Boere word aangemoedig om aansoek te doen vir die steun en volhoubare weidingspraktyke voort te sit as deel van langtermyn-klimaatveerkragtigheidsbeplanning. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die verligting is daarop gemik om kuddes, lewensbestaan en weidingshulpbronne te beskerm terwyl produksie voor die winter bestendig word:
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, beweer Iran het gesmeek vir die skietstilstandooreenkoms en sê Operasie Epic Fury was ʼn geskiedkundige en oorweldigende sukses op die slagveld. Amerika en Iran het op ʼn skietstilstand van twee weke ooreengekom wat die heropening van die Straat van Hormoes insluit. Hegseth sê Teheran se missielprogram is basies vernietig. Hy sê die skietstilstand bied geleentheid vir ware vrede en ʼn ware ooreenkoms:
# Atletiek: Wêreld Atletiek het die Diamantliga se eerste byeenkoms van die seisoen wat in Doha, Katar, sou plaasvind, is as gevolg van die konflik in die Midde-Ooste uitgestel. Die geleentheid wat op 8 Mei sou plaasvind, is tot 19 Junie uitgestel, indien toestande gunstig sou wees. Wêreld Atletiek sê die besluit is geneem weens kommer oor deelnemers en toeskouers se veiligheid. Vanjaar se Diamantliga-reeks begin nou op 16 Mei in Keqiao, China. Die reeks vind op 15 plekke plaas, insluitend Katar, China, Marokko, Italië, Swede, Pole en België.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-709-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….