Nuus 06:00
BULLETIN 9 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika soek ‘n regverdige en billike wêreldorde
# Die VF Plus sê die MK-party beoog om die selfbeskikkingsklousule in die Grondwet af te skaf
# En Iran het gedreig om aan die skietstilstand te onttrek as die aanvalle op Libanon voortduur
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se uitkyk op internasionale betrekkinge is gegrond op die waardes van sy Grondwet, insluitend menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hy het gister die hooftoespraak gelewer tydens die geloofsbriewe-seremonie by die Sefako Makgatho presidensiële gastehuis in Pretoria. Ramaphosa het gesê as ‘n nasie wat uit ‘n pynlike verlede van ongeregtigheid en ongelykheid ontstaan het, soek Suid-Afrika ‘n meer regverdige en billike wêreldorde:
# Die Vryheidsfront Plus sê die MK-party lyk vasbeslote om sleuteldele van die Grondwet van 1994 om te keer. Die party sê die MK-party se voorgestelde veranderinge aan selfbeskikking en eiendomsreg kan grondonteiening sonder vergoeding toelaat. Die party waarsku dit druis in teen die bestaande ooreenkomste wat die oorgang na demokrasie onderskryf het. Wynand Boshoff van die VF Plus doen ‘n beroep op die publiek om kommentaar te lewer terwyl die parlement hierdie veranderinge oorweeg.
# Die Spesiale Tribunaal het ‘n toekenning van 14-miljoen-rand deur die Nasionale Loterykommissie aan die Madumelani-gemeenskapsprojek in Hammanskraal onwettig en ongeldig verklaar. Die uitspraak volg op ‘n suksesvolle saak deur die Spesiale Ondersoekeenheid, waar regter Margaret Victor begunstigdes gelas het om die volle bedrag terug te betaal. Die tribunaal het bevind die befondsing is bedrieglik verkry deur middel van vervalste dokumente en die misbruik van fondse. Die Spesiale Ondersoekeenheid sê sekere aspekte van die saak is na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir verdere ondersoek.
# Die DA sê Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het nog ‘n geleentheid verspeel om die onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise wat van korrupsie beskuldig word, te verwyder. Die party vra ‘n nuwe ondersoek na bewyse wat Modise verbind met verskeie maatskappye wat voordeel trek uit stadskontrakte, insluitend ‘n sekuriteitstender van 300-miljoen-rand en watertenkwa-ooreenkomste ter waarde van 777-miljoen-rand. Cilliers Brink van die DA sê inwoners verdien ‘n regering wat korrupsie aanpak, en nie oortreders beskerm nie:
# Iran het gedreig om te onttrek aan die twee weke lange skietstilstand wat met die VSA ooreengekom is indien aanvalle op Libanon voortduur. Woensdag het die Israelse weermag sy grootste lugaanvalle sedert die begin van sy grondoperasie in Libanon uitgevoer, waartydens minstens 182 mense dood is. ‘n Verdere 700 is beseer. Die weermag het meer as 100 sogenaamde Hisbolla-bevelsentrums en militêre terreine in Beiroet, Suid-Libanon en die oostelike Bekaa-vallei, aangeval. Iran sê die staking van die oorlog op alle fronte, insluitend Libanon, was deel van die skietstilstandooreenkoms.
# Gholf: Die plaaslike speler, Gary Woodland, mag sy eie veiligheidspersoneel saambring tydens die Amerikaanse Meesterstoernooi wat vandag op Augusta in Georgia afslaan. 2019 se Amerikaanse Ope-kampioen het in September 2023 ‘n operasie ondergaan om ‘n goedaardige breingewas te verwyder. Dit was ‘n sukses, maar het hom met post-traumatiese stres-sindroom gelaat. Een van die newe-effekte is hiper-waaksaamheid, wat hom uiters versigtig maak, veral tussen baie mense. Woodland het gekwalifiseer toe hy verlede maand die Houston-ope gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-714-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….