Nuus 12:00
BULLETIN 8 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Skerp daling word in die olieprys ondervind ná ‘n skietstaking tussen Amerika en Iran aangekondig is
# Die Melkprodusente-organisasie skryf die beperking van bek-en-klouseer-uitbrekings aan die gebruik van entstowwe toe
# En gholf: Rory McIlroy slaan af saam met Cameron Young en Mason Howell met die verdediging van sy Meesters-titel
# Oliepryse het met meer as 13-persent gedaal namate geopolitieke spanning in die Midde-Ooste verlig het. Brent-ru-olie het gedaal van 109- tot onder 94-dollar per vat na die verrassende aankondiging van ‘n wapenstilstand van twee weke tussen Amerika en Iran. Die ooreenkoms om die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes te heropen, het wêreldwyd verligting gebring, en Asiatiese aandelemarkte het met meer as vyf-persent verbeter. Ontleders waarsku pryse bly wisselvallig hangend ‘n langtermyn-diplomatieke oplossing. Die Internasionale Energie-agentskap oorweeg glo om meer as 182-miljoen vate se olie-reserwes vry te stel om markte te help.
Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, verwelkom die skietstilstand en die heropening van die Seestraat van Hormoes waardeur meer as 20-persent van die wêreld se olie-voorraad vervoer word. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê alle partye moet die skietstilstand se bepalings nakom om blywende en omvattende vrede in die streek te verseker:
Terug in Suid-Afrika:
# Die Melkprodusente-organisasie sê die regering se inentingsveldtog het gehelp om die uitwerking van bek-en-klouseer-uitbrekings op melkkuddes te beperk. Die land het teen verlede maand meer as een-duisend-200 gevalle aangeteken waarvan die meeste in KwaZulu-Natal was. Die organisasie se uitvoerende hoof, Fanie Ferreira, sê inentingsprogramme is uiters belangrik om kuddegesondheid te handhaaf en die aanbod bestendig te hou, maar die sektor bly onder druk weens biosekerheidsgevare en toekomstige uitbrekings:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement is besig om sowat 200 geestesgesondheidspasiënte van die Talisman-stigting in Johannesburg veilig en onder kliniese toesig te verskuif. Die eiendom is verkoop en moet teen 14 Mei ontruim wees. Die departement se woordvoerder, Kealeboga Mohajane, sê ʼn taakspan sal die individuele beoordelings doen, geskikte gelisensieerde inrigtings vind en die herintegrasie met gesinne ondersoek. Mohajane sê hierdie proses word bestuur in ooreenstemming met wetgewende en beleidsraamwerke en hulle neem die lesse in ag wat hulle uit die Life Esidimeni-tragedie geleer het.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy, speel saam met Cameron Young en die amateur Mason Howell in die eerste twee rondes van die Amerikaanse Meesters-toernooi wat môre op Augusta in Georgië begin. Die Noord-Ier het verlede jaar sy loopbaan-Grand Slam behaal met sy oorwinning in ‘n uitspeelstryd. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, sal saam met die Skot Bob MacIntyre en sy landgenoot Gary Woodland afslaan. Verlede jaar se naaswenner, Justin Rose van Engeland, is saam met 2015 se wenner, Jordan Spieth, en die vyfmalige major-kampioen, Brooks Koepka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-758-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-800-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….