Nuus 11:00
BULLETIN 8 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa ontvang geloofsbriewe van gesante van 20 lande, insluitend die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne hersien die plaaslike brandstofprysmeganisme
# En gholf: Rory McIlroy slaan af saam met Cameron Young en Mason Howell met die verdediging van sy Meesters-titel
# President Cyril Ramaphosa gaan vandag die geloofsbriewe van die Amerikaanse ambassadeur in die land, Brent Bozell, in Pretoria ontvang. Dit volg teen die agtergrond van die stram verhouding tussen die twee lande weens onder meer die uitsetting van Suid-Afrika se Ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, verlede jaar. Bozell is verlede maand aangepraat oor sy opmerking waarin hy die hofuitspraak oor haatspraak bevraagteken het. Bozell sal sy geloofsbriewe oorhandig saam met 19 ander ambassadeurs, insluitend van Oekraïne, Ghana, Denemarke, Kuba, Noorweë en Libanon.
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne hersien die plaaslike brandstofprysmeganisme en die proses sal einde Maart volgende jaar afgehandel wees. Die regering het verlede week die algemene brandstofheffing tydelik met drie rand per liter verlaag om verbruikers tegemoet te kom te midde van skerp internasionale brandstofprysstygings weens die konflik in die Midde-Ooste. Die Direkteur van Brandstofprysmeganisme, Robert Maake, sê die brandstofprys is die gevolg van verskeie wêreldwye en plaaslike kragte:
# Die nuut-aangestelde Gautengse LUR vir Finansies, Nkululeko Dunga, sê sy hooftaak is om die provinsie se finansies bestendig te maak. Die 2026/27-begroting is byna 180-miljard-rand, wat drie hoof-voorkeure ondersteun, naamlik die bevordering van inklusiewe groei en werkgeleenthede, die lok van beleggings en die verbetering van lewensomstandighede en welstand deur betroubare dienste. Dunga sê die begroting is beperkend, en inkomsteverbetering is nodig om meer geld in te bring:
# Israel sê hy ondersteun president Donald Trump van Amerika se besluit om aanvalle teen Iran vir twee weke op te skort, maar beklemtoon dat die skietstilstand nie Libanon insluit nie. Dit weerspreek die bemiddelaar, Pakistan, se verklaring dat Libanon wel ingesluit is. Volgens berigte is meer as een-duisend-500 mense, insluitend 130 kinders, in Libanon dood sedert die Israelse Weermag met aanvalle begin het. Eerste minister Benjamin Netanyahu se kantoor sê Israel ondersteun ook Amerika se poging om seker te maak Iran hou nie meer ‘n kern-, missiel- en terreurbedreiging in nie.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy, speel saam met Cameron Young en die amateur Mason Howell in die eerste twee rondes van die Amerikaanse Meesters-toernooi wat môre op Augusta in Georgië begin. Die Noord-Ier het verlede jaar sy loopbaan-Grand Slam behaal met sy oorwinning in ‘n uitspeelstryd. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, sal saam met die Skot Bob MacIntyre en sy landgenoot Gary Woodland afslaan. Verlede jaar se naaswenner, Justin Rose van Engeland, is saam met 2015 se wenner, Jordan Spieth, en die vyfmalige major-kampioen, Brooks Koepka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-707-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-815-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….