Nuus 09:00
BULLETIN 8 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne hersien die plaaslike brandstofprysmeganisme
# Iran sal veilige deurgang deur die Straat van Hormoes koördineer tydens die twee weke lange skietstilstand
# En krieket: Die Rajasthan Royals klop die Mumbai Indians om na die toppunt van die IPL-punteleer te beweeg
# Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne sê hy hersien die plaaslike brandstofprysmeganisme en die proses sal einde Maart 2027afgehandel wees. Die regering het verlede week die algemene brandstofheffing tydelik met drie rand per liter verlaag om verbruikers tegemoet te kom te midde van skerp brandstofprysstygings wêreldwyd weens die konflik in die Midde-Ooste. Die direkteur van die Brandstofprysmeganisme, Robert Maake, sê die brandstofprys is die resultaat van ‘n legio wêreldwye en plaaslike kragte:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die regering van nasionale eenheid moet hervormings versnel of die gevaar loop om ekonomies tot stilstand te kom. Die jongste verslag skets drie moontlikhede, wat wissel van stadige groei tot sterk ekonomiese uitbreiding en werkskepping. Die buro waarsku dit is nie genoeg om die koalisie net bymekaar te hou nie, en duidelike, gekoördineerde beleide is nodig om beleggings en groei te bevorder. Die buro sê politieke geskille, stadige vordering en eksterne druk kan die ekonomie benadeel indien dit nie aangespreek word nie.
# Die Wes-Kaapse Departement vir Mobiliteit sê 19 mense het oor die Paasnaweek hul lewens op die provinsie se paaie verloor teenoor 22 in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is ‘n daling van 14-persent. Verkeersbeamptes het 44-duisend-555 voertuie ondersoek en 149 mense in hegtenis geneem. Dit sluit 108 in wat dronk bestuur het. Die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê dis duidelik dat volgehoue polisiesigbaarheid doeltreffend is om gevaarlike gedrag te ontmoedig:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê hy gaan die oorlog se uitslag slegs aanvaar wanneer besonderhede volgens ʼn tienpunt-vredesplan wat Pakistanse bemiddelaars aan Amerika oorhandig het, gefinaliseer is. Teheran het ingestem om tydens die skietstilstand van twee weke saam met die weermag ʼn veilige deurgang deur die Straat van Hormoes te koördineer. Die tienpuntplan sluit in dat alle primêre en sekondêre sanksies teen Iran opgehef word, dat Iran steeds die Straat van Hormoes beheer en dat die Amerikaanse weermag uit die Midde-Ooste onttrek.
# Krieket: Die Rajasthan Royals is boaan die Indiese Premierliga-punteleer ná hul oortuigende oorwinning met 27 lopies oor die Mumbai Indians in Guwahati. Yashasvi Jaiswal het ʼn onoorwonne 77 van 32 balle gemoker en die 15-jarige Vaibhav Sooryavanshi het 39 van slegs 14 aflewerings behaal. Die prestasies het bygedra tot die Royals se 150 vir drie nadat hulle boulbeurte weens reën tot elf beperk is. Daarna kon Mumbai slegs 123 vir nege aanteken nadat Nandre Burger, Sandeep Sharma en Ravi Bishnoi elk twee paaltjies laat kantel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-514-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-7966-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….