Nuus 06:00
BULLETIN 8 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herhaal sy oproep vir ‘n onmiddellike en permanente skietstilstand in die Midde-Ooste
# Iran waarsku dat as die VSA rooi lyne oorsteek, sy reaksie verder as die streek sal strek
# En Suid-Afrika ontvang die eerste besending van die nuwe MIV-voorkomingsmedisyne
# President Cyril Ramaphosa het gewaarsku dat voortgesette vyandelikhede in die Midde-Ooste die streek verder kan destabiliseer. Dit volg terwyl die VSA en Israel voortgesette militêre aanvalle op Iran uitvoer, met president Donald Trump wat dreig om die hele land te vernietig. Teheran het vergeldingsaanvalle op lande in die streek uitgevoer en die kritieke Straat van Hormoes afgesluit. Pakistan is tans in gesprek met die VSA en Iran met die doel om ‘n wapenstilstand te bemiddel. Ramaphosa sê die hele wêreld het nodig dat hierdie verskriklike oorlog beëindig word:
Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps sê intussen hy het aansienlike self-beheersing getoon en sorgvuldig te werk gegaan met die keuse van teikens vir vergelding teen die VSA en sy streekvennote. Hy sê egter van nou af sal al sulke oorwegings opsy gesit word. Dit volg nadat president Donald Trump gedreig het om Iran se kragsentrales en ander burgerlike infrastruktuur te vernietig. Die korps het gewaarsku dat as die Amerikaanse weermag rooi lyne oorskry, sy reaksie verder as die streek sal strek. Hy het bygevoeg dat hy die streek se olie- en gasvoorrade vir jare sal ontwrig.
# Die Departement van Gesondheid het die aankoms van die eerste besending van die MIV-voorkomende medisyne Lenacapavir in Suid-Afrika verwelkom. Die besending sluit 37-miljoen-920 dosisse van die sesmaandelikse inspuiting in, wat na verwagting sal help om nuwe MIV-infeksies, veral onder hoërisikogroepe, te voorkom. Foster Mohale van die departement sê die medisyne sal help om nuwe MIV-infeksies te bekamp en help om Vigs teen 2030 as ‘n openbare gesondheidsbedreiging te beëindig:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die regering sal beslissend optree om die oppergesag van die reg by Knoflokskraal in die Wes-Kaap te herstel. Die minister het ‘n gestruktureerde plan saamgestel wat jare se onwettige besetting, intimidasie en beweerde misdaad wat onwettige grondverkope insluit, sal aanspreek. Die gekoördineerde benadering sal nou fokus op inperking, maatskaplike fasilitering, gemeenskapsbetrokkenheid en sterker wetstoepassing. Hy sê die oppergesag van die reg kan nie sonder gevolge herstel word nie, en die regering moet optree om staatsgrond terug te eis.
# Gholf: Die naaswenner van verlede jaar se Amerikaanse Meesters, Justin Rose, glo hy het op die ouderdom van 45 steeds ‘n kans om te wen. Die Engelsman wat in Johannesburg gebore is, se enigste groot titel was die Amerikaanse Ope in 2013 en die goue medalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio, maar hy het sedertdien tweede geëindig in drie verskillende Meesterstoernooie. Rose het sy 13de PGA-toertitel in Februarie op Torrey Pines verower en is vol vertroue hy het die vermoë om vanjaar se Meesterstoernooi te wen, wat môre op Augusta in Georgia begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-460-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-811-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse finansiële onderwysmaatskappy Fintr, het sy bekroonde bordspeletjie FinMaster landwyd by Exclusive Books bekendgestel. Die speletjie fokus op spaar, beleggings en die bou van welvaart deur middel van spel, en gebruik Suid-Afrikaanse temas soos beurtkrag en kabinetskommelings. Dit is ontwikkel uit ‘n pizzaboks-prototipe wat deur twee nywerheids-ingenieurs geskep is en sedertdien internasionale erkenning verwerf het. Die maatskappy se medestigter en uitvoerende hoof, Elijah Djan, sê die speletjie moedig jongmense en gesinne aan om op ‘n prettige manier beter finansiële gewoontes aan te leer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….