Nuus 16:00
BULLETIN 7 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sekerheidsklaringsgapings in die Tshwane-metropolisie bekommer die Madlanga-kommissie
# Die Vereniging van Staatsamptenare eis optrede teen langdurige polisie-skorsings
# En tennis: ‘n Maklike oorwinning vir Sinner in sy eerste wedstryd in Monte-Carlo
# Die hoof van die Tshwane-metropolisie, Yolande Faro, het voor die Madlanga-kommissie onthul nie alle senior adjunkbeamptes het sekerheidsklaring nie, en erken die gapings in ondersoekprosesse. Sy sê die proses is lank en word deur die Staatsveiligheidsagentskap hanteer, maar beklemtoon dit behoort verpligtend te wees vanaf werwing. Faro bevestig sommige adjunkte het nie klaring ondergaan nie, ondanks die vereistes. Sy sê agtergrond-ondersoeke moet versterk word:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor 233 polisiebeamptes wat tussen April 2024 en Oktober verlede jaar geskors is, baie reeds langer as ses maande. Woordvoerder Claude Naicker waarsku langdurige skorsings veroorsaak finansiële en sielkundige skade en ondermyn bedryfs-doeltreffendheid. Hy vra bestuur en belanghebbendes om uitstaande sake af te handel en versnelde konflikbeslegting af te dwing kragtens die Wet op Arbeidsverhoudinge:
# ‘n Video wat wyd rondgestuur is van ‘n vermeende misdadiger wat doodgeskiet is ná ‘n stop-en-gryp-rooftog in Jakes Gerwel-rylaan in Kaapstad, het weer vrese oor eiereg aangewakker. Die ActionSA-parlementslid en lid van die Parlement se portefeuljekomitee op Polisie, Dereleen James, sê gemeenskappe het vertroue in die polisie verloor weens hul stadige reaksies, daarom wend inwoners hul tot selfverdediging. Sy sê die voorval toon die toename in vigilante-moorde en ‘n afstomping teenoor geweld. James sê dit het debatte oor wetstoepassingshervormings ontketen om die oorsake van misdaad te kan aanpak.
# Die Gautengse Groei- en Ontwikkelingsagentskap sê hy is gereed vir die 2026 Gautengse Beleggingskonferensie die week, wat daarop gemik is om 200-miljard-rand in nuwe beleggings te verseker. Die agentskap se woordvoerder Muziwethu Mathema sê hulle bou voort op verlede jaar se konferensie wat 312,5-miljard-rand se beloftes gelok het. Die geleentheid fokus op die omskakeling van verbintenisse in haalbare projekte. Mathema bevestig hulle verwag meer as ‘n duisend konferensiegangers in sleutelsektore, insluitend groen energie, infrastruktuur en vervaardiging, wat die provinsie se 800-miljard-rand beleggingsteiken oor vyf jaar ondersteun.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, is maklik deur na die tweede ronde van die Monte-Carlo-meesterstoernooi nadat hy die Fransman Ugo Humbert binne ‘n uur uitgeskakel het. Indien hy Sondag die toernooi wen, sal hy Carlos Alcaraz van Spanje as wêreld-nommer-een onttroon. Alcaraz het sy eerste wedstryd teen die Argentyn Sebastian Baez gewen. Die Bulgaarse veteraan Grigor Dimitrov het teen ‘n ander Argentyn, Tomás Etcheverry, verloor, terwyl die Italianer Matteo Berrettini deur is na die ronde van 32 nadat die Spanjaard Roberto Bautista Agut weens ‘n besering onttrek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-669-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….