Nuus 13:00
BULLETIN 7 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom delg sy 38-miljard-rand ES26-staatseffek in ‘n belangrike mylpaal
# Die VN-Veiligheidsraad stem vandag oor ‘n voorstel oor die Seestraat van Hormoes
# En rugby: Die voormalige Wallabie-losskakel Bernard Foley tree uit op 36
# Eskom sê hy het sy ES26-staatseffek suksesvol gedelg, wat ‘n beduidende stap in sy finansiële herstelstrategie is. Dit is die eerste keer in 2007 uitgereik met ‘n aanvanklike aanbod van 500-miljoen-rand teen ‘n rentekoers van 7,85- persent, en het sedertdien gegroei tot ongeveer 38-miljard-rand. Die obligasieprogram het 30 openbare veilings ingesluit wat ongeveer nege-miljard-rand ingesamel het. Woordvoerder Daphne Mokoena sê die delging is ‘n bewys van Eskom se omkeertrajek:
# Die polisie in die Oos-Kaap het daarin geslaag om een van agt aangehoudenes weer te vang wat die naweek uit die Afsondering-polisiestasie in Maluti ontsnap het. Siphelele Mkhulisi, wat aanvanklik in aanhouding was weens moord, is gister vas aan die slaap gevind en sonder voorval aangekeer. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana sê die oorblywende ontsnaptes wat tereg staan op aanklagte van moord, verkragting, aanranding en crimen injuria, is steeds op vrye voet:
# Die Stad Kaapstad sê met damvlakke tans onder 50-persent, is die slim gebruik van drinkwater belangriker as ooit. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê ‘n praktiese manier waarop inwoners en ondernemings kan help is om gebruik te maak van behandelde afvalwater vir besproeiing en nywerhede. Hy sê dit verminder druk op die voorsiening van drinkwater en kan gebruikers se koste verminder:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad stem vandag oor ‘n afgewaterde voorstel om die heropening van die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes naby Iran te versoek. Dit volg ná besware teen vorige konsepweergawes vanaf verskeie permanente lede met veto-reg, insluitend Frankryk, Rusland en China. Die jongste konsep moedig lande wat belangstel in die gebruik van kommersiële maritieme roetes in die seestraat aan om verdedigingspogings te koördineer om die veiligheid en sekerheid van seevaart deur hierdie kritieke waterweg te verseker.
# Rugby: Die voormalige Wallabie-losskakel Bernard Foley gaan uittree aan die einde van die huidige Japannese seisoen. Die 36-jarige het 76 toetse vir Australië gespeel, onder meer in 2015 se Wêreldbekertoernooi in Engeland toe hulle in die eindstryd teen Nieu-Seeland verloor het, en toe weer vier jaar later in Japan. Foley het ook vir Australië se sewesspan gespeel en was in 2014 deel van die Waratahs se titeloorwinning in die Superrugby-reeks. Hy het sedert 2019 82 wedstryde vir Kubota in Japan gespeel en sluit sy loopbaan daar af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-82-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….