Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-paaltjiewagter Connor Esterhuizen en die Indiërs Sanju Samson en Jasprit Bumrah is benoem as die Internasionale Krieketraad se Spelers van die Maand vir Maart. Esterhuizen het beïndruk in die T20-reeks teen Nieu-Seeland waar hy 200 lopies in vyf wedstryde aangeteken het. Die Suid-Afrikaner Ayabonga Khaka is in die vroue-afdeling benoem saam met Nieu-Seeland se kaptein, Melie Kerr, en die Australiër Beth Mooney. Khaka het agt paaltjies platgetrek in die T20-reeks teen Nieu-Seeland. Haar ses paaltjies in die eerste eendagwedstryd in Christchurch was die beste van haar loopbaan.
# Rugby: Die Junior Springbokke se hoofafrigter, Kevin Foote, sê die doelwit van die twee weke-lange oefenkamp in Stellenbosch is om die spelers se fiksheidsvlakke en fisieke toestand te verbeter. Vyf-en-veertig spelers neem deel aan die kamp ter voorbereiding vir die Onder-20 Rugbykampioenskap wat in Gqeberha gehou sal word. Die kompetisie sal ook Nieu-Seeland, Australië en Argentinië insluit. Foote sê hul onlangse toer na Georgië was ‘n belangrike deel van hul voorbereiding, en dat hierdie kamp hul gereedheid verder sal verskerp.
Ander rugbynuus: Die Noordwes-universiteit se Arende en die Universiteit van Pretoria se Tukkies meet Maandag kragte in die Varsitybeker-eindstryd op die LC de Villiers-stadion in Pretoria. Die Arende het in Potchefstroom 40 punte in die tweede helfte aangeteken om die Universiteit Stellenbosch se Maties 50-10 af te ransel. In Pretoria het die vleuel, Munashe Dukuswa, drie drieë gedruk en Tuks, wat ‘n sesde titel wil buit, het die Universiteit van Johannesburg 53-34 verslaan. Die Walter Sisulu-universiteit en Wits spook Vrydag sake uit in die Varsityskild-eindstryd.
# Sokker: Kaizer Chiefs het sy kans versterk om te kwalifiseer vir die 2026/27 CAF-Konfederasiebekertoernooi toe hy Orbit College 3-1 verslaan het in ‘n Premierskapswedstryd in Gqeberha. Mbulelo Wagaba het Orbit laat voorloop en Wandile Duba het sake voor rustyd gelykop gemaak. Siphesihle Ndlovu en Mduduzi Shabalala se doele in die tweede helfte het AmaKhosi se oorwinning verseker. Chiefs is nou derde op die punteleer en het ʼn geleentheid om te kwalifiseer vir Afrika se weergawe van UEFA se Europese Liga.
# En tennis: 2014 se kampioen, Stan Wawrinka, is uit die Monte-Carlo-meesterstoernooi geskakel toe die promotorskeuse Sebastian Baez van Argentinië hom in die eerste ronde geklop het. Die 41-jarige Switser tree aan die einde van die seisoen uit. Die Argentyn Francisco Cerundolo het die driemalige kampioen, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, verslaan, terwyl Alexander Blockx van België met die Kanadees Denis Shapovalov afgereken het. Andrey Rublev van Rusland, wat in 2024 sy eerste Meesters=een-duisend-titel in Monte-Carlo behaal het, het Nuno Borges van Portugal geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….