Nuus 11:00
BULLETIN 7 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Suid-Afrika sal nie geboelie word oor met wie hy wêreldwyd assosieer nie
# ‘n Vermiste helikopter met vier mense aan boord is veilig in die Krugerwildtuin gevind
# En ‘n bekroonde Australiese soldaat word aangekla van oorlogsmisdade
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê Suid-Afrika sal nie geboelie word oor met wie hy wêreldwyd assosieer nie. Die land se beleid van onverbondenheid ontlok kritiek, veral omdat Suid-Afrika nie kant kies oor Rusland se inval in Oekraïne nie. Mbalula het tydens die Solomon Mahlangu-gedenklesing in Tshwane gesê die land sal nie swig voor die nasionale belange van ander lande nie, en dit is die kern van nasionale soewereiniteit:
# ‘n Helikopter met vier mense wat gister in die Krugerwildtuin vermis geraak het, is gevind. Die vlieënier, twee polisie-speurders en ʼn omgewingsmisdaad-ondersoeker was aan boord toe die helikopter gister verdwyn het tydens ʼn ondersoek nadat ʼn karkas gevind is. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê hulle het weens swak sigbaarheid in ‘n afgeleë gebied geland en besluit om te stap, maar moes deur digte boses beweeg. Hy sê niemand is beseer nie:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake sê daar is ʼn behoefte aan strenger afdwinging en aanspreeklikheid in die oorgrens-vervoersektor. Dit volg nadat ʼn bus op pad van Zimbabwe na Kaapstad die naweek op die N1 naby Bloemfontein voorgekeer is met 32 ongedokumenteerde buitelanders en 43 ander passasiers aan boord. Die voorsitter, Mosa Chabane, sê ʼn geïntegreerde wetstoepassings-benadering is noodsaaklik om seker te maak ongedokumenteerde mense binne Suid-Afrikaanse grense word geïdentifiseer en kragtens wet vervolg.
Nuus uit die buiteland:
# Australië se mees bekroonde lewende soldaat is vir vermeende oorlogsdade aangekeer na ʼn ondersoek van vyf jaar. Die 47-jarige Ben Roberts-Smith staan tereg op vyf aanklagte van moord tydens sy dienstydperk in Afganistan tussen 2009 en 2012. Hy is voorheen beskuldig van moord op ongewapende burgerlikes as lid van die Australiese Spesiale Lugdiens. Roberts-Smith ontken die aantygings. Federale polisiekommissaris Krissy Barrett sê die maksimum-straf vir elke aanklag is lewenslange tronkstraf:
# Sokker: Kaizer Chiefs het sy kans versterk om te kwalifiseer vir die 2026/27 CAF-Konfederasiebekertoernooi toe hy Orbit College 3-1 verslaan het in ‘n Premierskapswedstryd in Gqeberha. Mbulelo Wagaba het Orbit laat voorloop en Wandile Duba het sake voor rustyd gelykop gemaak. Siphesihle Ndlovu en Mduduzi Shabalala se doele in die tweede helfte het AmaKhosi se oorwinning verseker. Chiefs is nou derde op die punteleer en het ʼn geleentheid om te kwalifiseer vir Afrika se weergawe van UEFA se Europese Liga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-557-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-651-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….