Nuus 09:00
BULLETIN 7 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie se Paasfees-operasies was baie suksesvol
# Die EFF beskuldig die SABC en Newzroom Afrika van ongebalanseerde dekking
# En die Artemis 2-bemanning verbeter die rekord vir die verste menslike ruimtevlug
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê landswye Paasfees-operasies het positiewe resultate opgelewer, insluitend die inhegtenisneming van 15-duisend-840 verdagtes vir verskeie misdade. Owerhede het ook 132 onwettige vuurwapens en meer as duisend rondtes ammunisie gekonfiskeer, met KwaZulu-Natal wat die hoogste aantal beslagleggings op handwapens aangeteken het. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê tydens die operasies is 532 onwettige tavernes gesluit weens oortreding van die Drankwet:
# Die anti-apartheidsaktivis Allan Boesak sê die kerk moet ‘n sterker standpunt teen korrupsie inneem terwyl die Madlanga-kommissie sy verhore hervat. Boesak het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gewaarsku ‘n sameswering van stilswye het toegelaat het dat wangedrag voortduur, en hy het ‘n beroep gedoen op verantwoordbaarheid en morele leierskap. Hy het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkwanazi, geprys vir die blootlegging van beweerde korrupsie, wat lank verborge kwessies oopgevlek het. Hy het geloofsgemeenskappe aangespoor om te verenig en beslissend op te tree:
# Die EFF het amptelik aan die SABC en Newzroom Afrika geskryf en ‘n reg om te antwoord versoek. Dit volg na wat die party beskou as bevooroordeelde en ongebalanseerde nuusdekking oor die EFF se provinsiale voorsitter, Nkululeko Dunga, se aanstelling as Gauteng se LUR vir Finansies. Premier Panyaza Lesufi het hom verlede week aangestel. Die EFF sê albei mediahuise het talle eksterne kommentators, insluitend politieke ontleders en verslaggewers, ruimte gegee om die aanstelling te bespreek, maar die party het nie dieselfde geleentheid gekry nie.
# Tennis: Die 2014-kampioen, Stan Wawrinka, is by die Monte-Carlo Meesters uitgeskakel nadat die promotorskeuse, Sebastian Baez van Argentinië, hom in die eerste ronde geklop het. Die 41-jarige Switser tree aan die einde van die seisoen uit. Die Argentyn Francisco Cerundolo het die driemalige kampioen, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, verslaan, terwyl Alexander Blockx van België met die Kanadees, Denis Shapovalov, afgereken het. Andrey Rublev van Rusland, wat in 2024 sy eerste Meesters 1000-titel in Monte-Carlo behaal het, het Nuno Borges van Portugal geklop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-668-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-648-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: Die vier ruimtevaarders aan boord van NASA se Artemis 2-toetsvlug om die maan het geskiedenis gemaak deur dit verder van die Aarde af te waag as enigiemand ooit tevore, en die 1970-rekord wat deur Apollo 13 opgestel is, te verbeter. Gedurende ‘n ses uur lange verbyvlug het die bemanning van die Orion-kapsule, Reid Wiseman, Victor Glover, Christina Koch en Jeremy Hansen, ‘n uitsig oor die maan se verste kant vasgevang wat nog nooit tevore gesien is nie. Die ruimtevaarders het ook ‘n totale sonsverduistering aanskou, ‘n gesig wat volgens Glover werklik moeilik is om te beskryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….