Nuus 07:00
BULLETIN 7 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Aartsbiskop Makgoba sê die bedrog in die land se regstelsel moet uitgeroei word
# Die Madlanga-kommissie hervat sy ondersoek na korrupsie
# En Donald Trump sê ‘n 45-dae skietstilstandvoorstel vir Iran is “nie goed genoeg nie”
# Die aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, sê die finale verslag van die Madlanga-ondersoekkommissie moet deur sterk en dapper aksie opgevolg word om die verrotting in die land se strafregstelsel uit te wis. President Cyril Ramaphosa het die kommissie se voorlopige verslag in Desember verlede jaar ontvang, wat prima facie-bewyse van misdadigheid geïdentifiseer het. Die kommissie het aanbeveel sommige gevalle moet strafregtelik ondersoek word. Makgoba sê die uitdagings wat in die finale verslag vervat is, sal vereis dat Ramaphosa van die belangrikste besluite in sy presidentskap moet neem.
Die Madlanga-kommissie hervat intussen vandag sy verhore en ondersoek na beweerde korrupsie in die strafregstelsel en bewerings van politieke inmenging. Die kommissie se laaste getuie was sersant Fannie Nkosi, van die polisie se Gautengse georganiseerde misdaadeenheid, wat in hegtenis geneem is na ‘n klopjag verlede week by sy huis in Pretoria. Hy sal die week in die hof verskyn. Nkosi word na bewering met die Groot 5-kartel verbind. ‘n Nuwe getuie sal na verwagting vandag getuig.
# ‘n Drie-en-vyftigjarige kaptein in die Beskermings- en Sekuriteitsdienste is weens beweerde bedrog in hegtenis geneem. Hy is aangekeer ná ʼn interne ondersoek onder goedkeuring van die Afdeling vir Finansiële Bestuursdienste nadat die Polfin-stelsel verdagte transaksies opgemerk het. Die nasionale polisie-woordvoerder, Athlenda Mathe, sê die beampte wat toegang tot die finansiële afdeling van die Beskermings- en Sekuriteitsdienste gehad het, het die stelsel gemanipuleer om miljoene rande te onttrek:
# Die ANC Veteraneliga het besluit om die onlangse kabinetskommeling deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, intern aan te spreek na hulle kommer oor die aanstellings uitgespreek het. Die liga het die aanstelling van die EFF Gauteng-voorsitter, Nkululeko Dunga, as LUR vir Finansies bevraagteken. Die liga het verwys na Dunga se beweerde swak finansiële prestasie tydens sy ampstermyn as burgemeesterskomiteelid vir Finansies in Ekurhuleni. Die liga voeg by koalisiebesluite moet ooreenstem met die ANC se strategiese raamwerke. Hulle sê die bestuur van Gauteng se begroting van 179-miljard-rand vereis sterk aanspreeklikheid.
# President Donald Trump van Amerika sê ʼn voorstel vir ʼn skietstilstand van 45 dae met Iran is ʼn betekenisvolle stap, maar dis nie goed genoeg nie. Die voorstel wat deur die bemiddelaars, Pakistan, Egipte en Turkye bewerkstellig is, sluit die heropening van die Straat van Hormoes in wat een van die wêreld se besigste olie-seeroetes is. Iran verwerp die voorstel. Trump het gister tydens ʼn Paasfees-geleentheid by die Withuis aan verslaggewers gesê hy is die enigste persoon wat kan bepaal of daar ʼn skietstilstand sal wees:
# Krieket: Die Protea-paaltjiewagter en -kolwer, Connor Esterhuizen, en die Indiese paar, Sanju Samson en Jasprit Bumrah, is benoem as die Internasionale Krieketraad se Speler van die Maand vir Maart. Esterhuizen het as nuweling beïndruk in die T20-reeks teen Nieu-Seeland waar hy 200 lopies in vyf wedstryde aangeteken het. Die Suid-Afrikaner Ayabonga Khaka is in die vroueafdeling benoem, saam met die Nieu-Seelandse kaptein, Melie Kerr, en die Australiër Beth Mooney. Khaka het agt paaltjies platgetrek in die T20-reeks teen Nieu-Seeland. Haar ses paaltjies in die eerste eendagwedstryd in Christchurch was tot dusver die beste van haar loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-758-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-650-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….