Nuus 08:00
BULLETIN 29 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF nader die hof oor tugstappe teen ses van sy parlementslede
# Eskom se nuwe beperkingsbylaag ontsluit broodnodige netwerkkapasiteit vir windprojekte
# En, twee omgewingsbetogers is vasgetrek nadat hulle sop na die Mona Lisa gooi
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor vandag die EFF se saak aan oor tugstappe teen ses van sy parlementslede, insluitend leier Julius Malema. Die lede is beskuldig van minagting van die Parlement nadat hulle verlede jaar die verhoog bestorm het tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Die lede sal van Donderdag af vir een maand sonder betaling geskors wees. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle sal die EFF se aansoek teenstaan en voeg by hulle het ‘n baie sterk saak.
# Eskom het die langverwagte beperkingsbylaag by sy jongste assessering oor opwekking-verbindingsvermoë gepubliseer. Dis ʼn belangrike stap om broodnodige netwerkkapasiteit vir windprojekte in die Wes-en Oos-Kaap beskikbaar te stel. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die bylaag goedgekeur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê voor die bylaag was daar geen oorblywende netwerkkapasiteit in dié twee provinsies nie:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, stel vandag ʼn onafhanklike regsfirma bekend aan die skoolbestuurspan en beheerliggaam van die Laerskool Queenswood in Pretoria. Dit volg nadat Latoya Temilton, ʼn graad sewe-leerder van die skool, op die 20ste van die maand tydens ʼn skooluitstappie verdrink het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die regsfirma sal te gelegener tyd ook aan die familie voorgestel word:
# Twee omgewingsbetogers is gearresteer nadat hulle sop gegooi het na die Mona Lisa, wat agter ʼn glasskerm in die Louvre in Parys is. Hulle eis gesonde en volhoubare kos. Die omgewingsgroep Riposte Alimentaire het aanspreeklikheid aanvaar. Hy sê dis die begin van ʼn veldtog van burgerlike verset met ʼn duidelike eis vir die maatskaplike sekerheid van volhoubare kos. Die Mona Lisa is sedert die vroeë 1950’s agter veiligheidsglas nadat ʼn besoeker dit met suur beskadig het.
# Krieket: Durban’s Super Giants wat bo-aan die punteleer is, het Paarl Royals wat tweede is met 125 verpletter en ʼn bonusoorwinning op Kingsmead behaal. Hulle is die eerste span wat vir die SA20-uitspeelwedstryde kwalifiseer. Matthew Breetzke se 78 en Heinrich Klaasen se vinnige vyftigtal van 17 balle het die Super Giants ʼn telling van 208 vir sewe besorg. In antwoord daarop het draaibouler Noor Ahmad vyf paaltjies vir elf lopies laat kantel, wat die beste van sy loopbaan is. Die Royals was op 83 almal uit. Breetzke sê hulle moet aanhou om goed te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-353-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-25-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….