Nuus 06:00
BULLETIN 7 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se leierskapskandidate moet ‘n sterk partyvisie voor die kongres aanbied
# Iran verwerp ‘n voorstel vir ‘n skietstilstand van 45 dae
# En huldeblyke stroom in vir die jare lange lid van Ladysmith Black Mambazo, Albert Mazibuko
# Die DA se kongreswoordvoerder Luyolo Mphithi sê kandidate wat meeding om leier John Steenhuisen op te volg, moet volgende naweek ‘n oortuigende visie aan afgevaardigdes voorlê. Mphithi sê Geordin Hill-Lewis en Sibusiso Dyonase moet duidelike planne uiteensit om die party te laat groei en tot kiesers spreek voor die komende plaaslike regeringsverkiesing. Hy voeg by die afgevaardigdes sal op grond van die leierskap se visie besluit, en beklemtoon dat interne demokrasie die sleutel tot die party se toekomstige rigting bly:
# President Cyril Ramaphosa stuur vanoggend die Waarheids- en Versoeningskommissie se behuisingshulpprogram by die Sonkombo-sportveld, KwaZulu-Natal, van stapel. Die inisiatief bied behuisingsondersteuning aan slagoffers wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie geïdentifiseer is, ter viering van 30 jaar sedert die WVK en die Grondwet. Die WVK het menseregteskendings uit die apartheidsera ondersoek, amnestie gefasiliteer en voorsiening gemaak vir slagofferherstel en versoening. Die program vorm deel van voortgesette herstel- en versoeningspogings, met begunstigdes wat simboliese oorhandigings ontvang wat deur politieke en tradisionele leiers ondersteun word.
# Die Johannesburg-metropolisie doen ‘n beroep op motoriste om veiligheid eerste te stel voor die heropening van skole. Verkeer op die hoofroetes, insluitend die N1, N3 en N12, sal na verwagting toeneem met verkeersopeenhopings by tolplazas en wisselaars. Beamptes bly steeds regoor die stad ontplooi om padveiligheid af te dwing. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla waarsku teen spoedoortredings, dronkbestuur en moegheid, en om waaksaam te bly om ongelukke te voorkom:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake het die voorstel van ‘n tydelike skietstilstand verwerp en sê dit sal die VSA en Israel in staat stel om voor te berei vir die voortsetting van die oorlog. Bemiddelaars van Egipte, Pakistan en Turkye het, na wat berig word, ‘n skietstilstand van 45 dae voorgestel. Dit volg nadat president Donald Trump gedreig het met moontlike aanvalle op Iranse infrastruktuur indien die Straat van Hormoes nie heropen word nie. Iran se woordvoerder vir Buitelandse Sake, Esmail Baghaei, sê hulle sal terugveg teen enige aanvalle op die land se nasionale infrastruktuur:
# Rugby: Junior Springbok-hoofafrigter, Kevin Foote, sê die doelwit van die twee weke lange oefenkamp in Stellenbosch is om die spelers se fiksheidsvlakke, fisieke toestand en bal-in-speel-tyd te verbeter. Vyf-en-veertig spelers neem deel aan die kamp, wat Maandag begin het, ter voorbereiding vir die Onder-20 Rugbykampioenskap wat in Gqeberha gehou sal word. Die kompetisie sal ook Nieu-Seeland, Australië en Argentinië insluit. Foote sê hul onlangse toer na Georgië was ‘n belangrike deel van hul voorbereiding, en dat hierdie kamp hul gereedheid verder sal verskerp.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-331-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-660-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: Huldeblyke stroom in na die afsterwe van Albert Mazibuko, wat vir meer as vyf dekades in die ikoniese groep Ladysmith Black Mambazo gesing het. Hy is op 77-jarige ouderdom na ‘n kort siekbed oorlede. Mazibuko het in 1969 by Ladysmith Black Mambazo aangesluit, en die groep het vyf Grammy-toekennings gewen. Die groep het hom beskryf as ‘n vriendelike mens van binne en buite. KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, sê Mazibuko se bydrae tot die bewaring en bevordering van inheemse musiek op die wêreldverhoog sal nooit vergeet word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….