Nuus 11:00
BULLETIN 5 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe kommissaris van die Inkomstediens waarsku die verlaging in die brandstofheffing gaan die fiskus ses-miljard-rand kos
# Trump loof ‘n dramatiese Amerikaanse militêre reddingsoperasie in Iran
# En tennis: Sinner daag Alcaraz uit vir die eerste plek op die wêreldranglys op die Monte Carlo-meesters
# Die nuut-aangestelde kommissaris van die Inkomstediens, Johnstone Makhubu, sê dit mag nodig wees om belasting-invorderingspogings te verskerp om te vergoed vir ‘n inkomstetekort van bykans ses-miljard-rand per maand nadat die brandstofheffing verlaag is. Dit is gedoen om druk op verbruikers te verlig ná skerp stygings in brandstofpryse. Makhuba sê die diens kan ‘n strenger standpunt inneem rondom belasting-nakoming, en waarsku wanbetalers oor verskerpte afdwinging om verlore inkomste te verhaal:
# Judges Matter het president Cyril Ramaphosa weer gevra om te verduidelik waarom die aanstelling van twee regters in die Konstitusionele Hof steeds sloer. Die navorsings- en voorspraakbeampte, Mbekezeli Benjamin, sê geen aanstellings is nog gedoen byna ses maande nadat die Regterlike Dienskommissie vyf name voorgelê het nie. Hy het aan Newzroom Afrika gesê dit lei tot vertragings in doeltreffende uitspraaklewering:
# Bendegeweld duur voort in dele van die Kaapse Vlakte ondanks die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Weermag onder Operasie Voorspoed. Skietvoorvalle is aangemeld in Mitchells Plain, Manenberg, Delft en omliggende gebiede. Die polisie in Bishop Lavis het vier sake van poging tot moord geopen ná ‘n skietery in Kalksteenfontein. Inwoners het in ‘n ander voorval ‘n vermeende gewapende man met klippe doodgegooi. Aktiviste vra sterker polisie-geleide intelligensie-operasies om misdaad aan te pak en bestendigheid te herstel.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, prys ‘n hoërisiko-militêre operasie wat gelei het tot die suksesvolle redding van ‘n Amerikaanse offisier wat agter vyandelike linies in Iran gestrand was. Trump beskryf die operasie as een van die mees gewaagde in Amerikaanse geskiedenis en onthul ‘n vlieënier is ook in ‘n aparte operasie gered. Hy sê daar was geen ongevalle nie, en lig uit wat hy die oorweldigende Amerikaanse lugmeerderwaardigheid noem. Hy sê dit herbevestig sy belofte om nooit Amerikaanse personeel agter te laat nie.
# En tennis: Die Italianer Jannik Sinner kan na die voorste plek op die wêreldranglys terugkeer in hierdie week se Monte Carlo-meesterstoernooi. Die 24-jarige, wat verlede maand die toernooie in Indian Wells en Miami gewen het, het tot binne 190 punte van die Spanjaard Carlos Alcaraz op die ranglys gevorder. Alcaraz is die verdedigende kampioen in Monte Carlo. Sinner moet die halfeindronde haal om ‘n kans te staan om weer nommer-een te word, maar as hy die eindstryd haal, sal hy Alcaraz onttroon tensy die Spanjaard die titel wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….