Nuus 08:00
BULLETIN 4 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê vrede in die Midde-Ooste kan slegs deur diplomatieke betrokkenheid bereik word
# Minister Creecy versoek motoriste om verantwoordelik te bestuur gedurende die Paastydperk
# En Burkina Faso se militêre leier sê demokrasie is nie vir sy land nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika bly standvastig in sy standpunt dat die enigste lewensvatbare pad vorentoe in die Midde-Oosterse konflik deur diplomatieke betrokkenheid en ‘n verbintenis tot ‘n vreedsame en blywende oplossing is. Die minister het ‘n indringende gesprek met die Iranse minister van Buitelandse sake, Abbas Araghchi, gevoer. Lamola sê hy het sy kommer uitgespreek oor die toenemende verlies aan burgerlike lewens en die verslegtende humanitêre situasie in die streek. Hy sê hy het Suid-Afrika se oproep vir ‘n onmiddellike staking van vyandelikhede herbevestig.
# Die konstruksiesektor waarsku dat skerp brandstofprysstygings infrastruktuurontwikkeling en projeklewering kan ontwrig. Petrol het op 1 April met meer as drie rand per liter gestyg en diesel met meer as sewe rand per liter, met tydelike verligting van die regering se kant. Construction Alliance South Africa sê hoër brandstofkoste sal vervoer-, materiaal- en masjineriebedrywighede beïnvloed. Die sektor doen ‘n beroep op dringende samewerking, aangesien voortdurende wêreldwye onbestendigheid steeds brandstofpryswisselvalligheid aanvuur.
# Terwyl die Paasnaweek op dreef kom, het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, motoriste aangespoor om veilig te bestuur en die padreëls te gehoorsaam. Die Paastydperk is bekend vir verhoogde verkeersvolumes met reisigers op pad na godsdiensbyeenkomste en vakansiebestemmings. Wetstoepassers monitor brandpuntroetes, insluitend die N1, N3, N4 en N7. Creecy het die hoofoorsake vir ernstige ongelukke gedurende vakansietye uitgelig, insluitend dronkbestuur en spoedoortredings:
# Die Departement van Basiese Onderwys het sy verbintenis herbevestig om met belanghebbendes in gesprek te tree. Dit volg na aanleiding van ‘n versoekskrif van Autism Matters en vennote te midde van Outisme-bewustheidsmaand. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê inklusiewe onderwys bly ‘n sleutelprioriteit. Hy voeg by bekommernisse word aangespreek deur bestaande strukture soos Witskrif 6 en die Direktoraat vir Inklusiewe Onderwys. Hy bevestig voortgesette raadpleging om gekoördineerde en volhoubare oplossings vir alle leerders te kan bied:
# Die president van Burkina Faso, Ibrahim Traoré, sê die mense van sy land moet vergeet van demokrasie. Dit volg net drie maande nadat sy regering alle politieke partye in die Wes-Afrikaanse nasie ontbind het. Hy het in September 2022 die mag in ‘n staatsgreep oorgeneem. Traoré, wat wydverspreide bewondering van die Afrika-diaspora vir sy teen-Westerse retoriek ontvang, sê waar Westerse moondhede probeer om demokrasie in die wêreld te vestig, gaan dit altyd gepaard met bloedvergieting. Hy sê hy bou ‘n nuwe stelsel gewortel in soewereiniteit, patriotisme en revolusionêre mobilisering.
# En krieket: Die Punjab Kings het agtereenvolgende oorwinnings behaal ná ‘n oorwinning met vyf paaltjies oor die Chennai Super Kings op die MA Chidambaram-stadion in Chennai. Ayush Mhatre het 73 lopies van 43 balle aangeteken, die derde hoogste telling in IPL-geskiedenis deur ‘n kolwer jonger as 19 om die Super Kings tot ‘n mededingende totaal van 209 vir vier in hul 20 boulbeurte te lei. Hierna het kaptein Shreyas Iyer die hoogste punte aangeteken met 50 lopies van 29 balle, terwyl Prabhsimran Singh met 43 lopies van 34 balle geslaag het en Punjab die oorwinning met vyf balle oor behaal het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….