Nuus 16:00
BULLETIN 2 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verhoog die beleggingsteiken tot drie-duisend-miljard-rand oor die volgende vyf jaar
# Minister Macpherson doen stappe om ongebruikte militêre grond in behuisingsgeleenthede te omskep
# En rugby: Fidji stel ‘n waarnemende afrigter aan na Byrne se vertrek
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se beleggingsteiken hersien van twee-duisend-miljard- na drie-duisend-miljard-rand oor vyf jaar. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die stap volg nadat byna een-duisend-miljard-rand op dag een van die sesde beleggingskonferensie beloof is. Sy sê verbintenisse ter waarde van 898-miljard-rand vir 81 projekte dui op beleggersvertroue. Ntshavheni beklemtoon die verbintenisse sal na verwagting meer as 230-duisend werksgeleenthede skep, inklusiewe groei ondersteun en ekonomiese herstelpogings bevorder:
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit om die brandstofheffing vir ‘n maand te verlaag om tydelike verligting aan motoriste te bied. Wynand Boshoff van die party sê egter die verlore inkomste sal uiteindelik verhaal moet word, en beklemtoon Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde brandstowwe. Boshoff benadruk hoe belangrik Sasol en volhoubare elektrisiteit is vir die ondersteuning van elektriese vervoer:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê mense woon in informele nedersettings langs militêre basisse omdat daar nie grond is om gemengde ontwikkelings te bou nie. Die departement beplan nou om ongebruikte militêre grond te ontsluit, insluitend Wingfield en Youngsfield, om Kaapstad se behuisingsagterstand aan te pak. Macpherson sê hy is optimisties dat beleidsrigting en proklamasies teen die einde van die jaar afgehandel sal word, sodat bouwerk kan begin om duisende behuisingseenhede en verbeterde menslike nedersettings te voorsien.
# Die Johannesburgse Metropolisie stel verskerpte operasies in die metro in oor Paasnaweek. Digbevolkte gebiede, insluitend die middestad en omliggende townships, kan verhoogde patrollies verwag om botsings te beheer en te voorkom. Woordvoerder Xolani Fihla sê motoriste kan deurentyd padblokkades, streng wetstoepassing en ‘n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor alle verkeersoortredings verwag:
# Rugby: Senirusi Seruvakula sal Fidji afrig vir sy eerste drie Nasieskampioenskaps-wedstryde nadat hy in ‘n waarnemende hoedanigheid aangestel is na Mick Byrne se vertrek. Byrne het gister met onmiddellike ingang vertrek oor wat die hoof van Fidji se Rugbyunie, Koli Sewabu, beskryf as ‘n meningsverskil oor ‘n nuwe rigting vir die span voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Sewabu sê die raad het volle vertroue in Seruvakula vir die drie wedstryde teen Wallis, Engeland en Skotland in Europa in Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-133-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-625-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….