Nuus 11:00
BULLETIN 2 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA verwelkom die verlaging van die brandstofheffing, maar veroordeel die regering se stadige besluitneming
# Die Mededingingskommissie se jongste verslag toon aanhoudende druk op lewenskoste
# En motorsport: Die F1-Akademie vervang die Saoedi-ronde met ekstra wedrenne in Montreal en Austin
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering se brandstofheffingverlaging was te laat, ondanks duidelike tekens van skerp stygings vroeër die maand. Die organisasie sê hoewel dit sal help om druk op verbruikers te verlig en stygings in vervoer- en voedselkoste te beperk, het die vertraging onsekerheid geskep by huishoudings en ondernemings. Uitvoerende hoof Wayne Duvenage vra tydige brandstofpryskommunikasie en groter deursigtigheid oor strategiese oliereserwes voor volgende maand se aanpassing:
# Die Mededingingskommissie se tweede lewenskosteverslag dui aan pryse vir noodsaaklikhede soos elektrisiteit, water, voedsel, gesondheidsorg en onderwys het sedert 2020 vinniger gestyg as algehele inflasie. Elektrisiteitspryse het met ongeveer 85-persent gestyg en watertariewe met 68-persent, met die prys van stapelvoedsel soos eiers, hoender, mieliemeel en sonneblomolie wat hoog bly, selfs wanneer produksiekoste daal. Woordvoerder Siyabulela Makunga sê meer deursigtigheid rondom pryse word benodig om die druk op verbruikers te verminder.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi het toegegee aan die dreigemente van die EFF om die provinsie onbestendig te maak. Lesufi het gisteraand ingrypende veranderinge aan sy kabinet aangekondig, insluitend Nkululeko Dunga van die EFF wat die nuwe LUR van Finansies word. Die vorige LUR, Lebogang Maile, verskuif nou na die Onderwysportefeulje. Solly Msimanga van die DA sê die veranderinge is bloot Lesufi se desperate skuif vir oorlewing:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump sê Amerika het geen olie nodig wat deur die Seestraat van Hormoes ingevoer word nie. Hy sê lande wat dit nodig het, moet die leiding neem om die roete weer oop te maak. Iran het een van die wêreld se besigste olie-verskepingskanale versper sedert Amerika en Israel die land in Februarie aangeval het. Trump sê die seestraat sal heropen sodra die oorlog eindig, en brandstofpryse sal dan vinnig daal:
# Motorsport: Die F1-Akademie, wat net uit vroue bestaan, het wedrenne in Montreal, Kanada, en Austin in Texas bygevoeg om te vergoed vir die afstelling van die Saoedi-Arabiese wedrenne. Die hersiene program verseker dat die reeks steeds bestaan uit 14 wedrenne oor ses rondes in vyf lande. F1 het hierdie maand se wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië afgestel weens die konflik in die Midde-Ooste. Die akademie is ook besig om sy naweek-wedrenstruktuur op te knap met die instelling van ‘n splinternuwe formaat van drie rondes by sekere geleenthede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-677-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-604-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….