Nuus 09:00
BULLETIN 2 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padvragvereniging is bekommerd oor die uitwerking van die dieselprysverhoging
# Vier verdagtes is dood en twee in hegtenis geneem na ‘n skietgeveg met die polisie in Soweto
# En gholf: Tiger Woods sal nie die kaptein van die 2027 Amerikaanse Ryderbeker-span wees nie
# Die Padvragvereniging sê padvragoperateurs is onder geweldige druk as gevolg van die jongste brandstofprysstygings. Stygende wêreldwye oliepryse as gevolg van die Midde-Oosterse spanning en ‘n swakker rand het die brandstofprysstyging veroorsaak. Beide grade petrol het met drie-rand-ses-sent per liter gestyg, terwyl beide grade diesel met tussen sewe-rand-37-sent en sewe-rand-51 sent per liter gestyg het. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê dit sal ‘n beduidende uitwerking hê op die bedryfskoste van operateurs:
# Die Mededingingskommissie se tweede lewenskosteverslag dui aan pryse vir noodsaaklikhede soos elektrisiteit, water, voedsel, gesondheidsorg en onderwys het sedert 2020 vinniger gestyg as algehele inflasie. Elektrisiteit het met ongeveer 85-persent gestyg en water met 68-persent, met stapelvoedsel soos eiers, hoender, mieliemeel en sonneblomolie wat hoog bly, selfs wanneer produksiekoste daal. Siyabulela Makunga van die kommissie sê meer deursigtigheid rondom pryse word benodig om die druk op verbruikers te verminder.
# Vier vermeende misdadigers is gister in ‘n skietgeveg met die polisie dood, terwyl nog twee in Mofolo, Soweto, in hegtenis geneem is. ‘n Multidissiplinêre span, wat die Valke, Badboyz Sekuriteit en die Gauteng-polisie se snelwegpatrollie ingesluit het, het gereageer op inlgting oor ‘n beplande rooftog by ‘n plaaslike onderneming. Valke-woordvoerder, Katlego Mogale, sê die span het die verdagtes en die voertuie wat beskryf is, naby die plek waar die rooftog sou plaasvind, geïdentifiseer:
# President Donald Trump sê die VSA se belangrikste strategiese doelwitte in Iran nader voltooiing. Hy het ‘n televisietoespraak vanuit die Withuis gelewer, waar hy die weermag se suksesse in Teheran die afgelope paar weke geprys het. Trump het sy besluit om oorlog te voer verdedig en Iran beskryf as ‘n moorddadige regime wat lank voor sy aankoms in die amp hanteer moes word. Hy het bygevoeg dat hy Iran oor die volgende twee tot drie weke uiters swaar gaan tref:
# Gholf: Die Amerikaanse vereniging van beroepsgholfspelers, die PGA, sê Tiger Woods is nie beskikbaar om as 2027-kaptein van die Amerikaanse Ryderbeker-span oorweeg te word nie. Die 15-malige major-kampioen is Vrydag gearresteer nadat hy vermoedelik onder die invloed van alkohol bestuur en sy voertuig naby sy huis in Suid-Florida gerol het. Volgens berigte was hy voor die voorval die gunsteling om die span by Adare Manor in Ierland te lei. Die PGA van Amerika sê hy ondersteun Woods wat nou op sy gesondheid en welstand gaan fokus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-551-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-681-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….