Nuus 06:00
BULLETIN 2 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Nuwe Inkomstediens-kommissaris sal teen 1 Mei aangestel wees
# Panyaza Lesufi betrek Nkululeko Dunga van die EFF op sy uitvoerende bestuur
# En Keir Starmer vra vir sterker Europese bande namate die Iranse oorlog Amerikaanse betrekkinge onder druk plaas
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die proses om ‘n nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aan te stel, is voltooi en wag slegs op die amptelike aankondiging deur president Cyril Ramaphosa. Dit volg nadat Edward Kieswetter se termyn tot ‘n einde gekom het, na sewe jaar aan die stuur. Die inkomende hoof van die diens sal na verwagting die rol amptelik op 1 Mei aanvaar. Godongwana het Kieswetter geprys vir die heropbou van die Inkomstediens uit staatskaping:
# ‘n Span ministers in die Kabinet sal aan president Cyril Ramaphosa verslag doen oor maatreëls om die ekonomie en verbruikers teen stygende elektrisiteits-, voedsel- en vervoerkoste te beskerm. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die hersiening volg op wêreldwye druk, insluitend die uitwerking wat die konflik in die Midde-Ooste het. Ministers heroorweeg gedeeltes van die nasionale begroting, veral brandstofverwante koste. Die taakspan sluit finansies-, energie- en justisieportefeuljes in, en fokus op dringende ingrypings namate onsekerheid rondom wêreldtoestande Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte steeds beïnvloed.
# ‘n Finansiële beampte van die Polisie, verbonde aan die Beskermings- en Sekuriteitsdienste is geskors na bewerings van bedrog wat miljoene rand beloop. ‘n Interne ondersoek het bevind dat die beampte na bewering sy toegang tot die finansieringstelsel gebruik het om kontant te onttrek wat bedoel was vir reiskoste vir presidensiële beskermingsbeamptes. Die woordvoerder van die Polisie, Athlenda Mathe sê die geld is na bewering nie vir die doel aangewend nie en is in plaas daarvan in groot kontantbedrae onttrek:
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het sy uitvoerende bestuur verander. Nkululeko Dunga van die EFF is aangestel as die nuwe LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, en vervang Lebogang Maile, wat nou die LUR vir Onderwys, Sport, Kuns en Kultuur is. Hy neem die leisels oor by Matome Chiloane. Nomantu-Nkomo Ralehoko is van haar portefeulje by Gesondheid en Welstand na Maatskaplike Ontwikkeling oorgeplaas. Faith Mazibuko sal nou verantwoordelikheid vir die Gesondheidsportefeulje aanvaar. Lesufi sê die veranderinge is daarop gemik om bestuur in die wetgewer te versterk:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer sê die wêreldwye onbestendigheid wat deur die Iranse oorlog veroorsaak is, beteken dat Brittanje nouer met Europese bondgenote oor veiligheid en die ekonomie moet skakel. Dit volg op herhaalde kritiek van die Amerikaanse president Donald Trump. Starmer het aan die media gesê die impak van die oorlog is bepalend vir die volgende generasie en is soortgelyk aan gebeure toe energiepryse in die 1970’s die hoogte in geskiet het. Hy beoog binnekort nog ‘n beraad met die Europese Unie wat hopelik die ernstige skade wat deur Brexit aangerig is, ongedaan sal maak.
# Rugby: Fidji soek ‘n nuwe hoofafrigter nadat hulle Mick Byrne afgedank het net 18 maande voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Die beheerliggaam het aangekondig dat hulle met wedersydse instemming van Byrne afskeid neem. Hy het in 2024 oorgeneem en oorwinnings oor Skotland, Wallis en Japan behaal, maar het na bewering ‘n ander visie as die bestuur vir die span gehad. Fidji speel volgende teen Wallis, Engeland en Skotland in die Nasieskampioenskap in Julie. Die eilandnasie is tans negende op die wêreldranglys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-214-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-779-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….