Nuus 13:00
BULLETIN 1 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fort Hare skors sy vise-kanselier weens onreëlmatighede
# Die Nkabinde-ondersoek verdaag vir Paasnaweek
# En krieket: Oproepe vir ‘n Indiese tienersensasie om vir die land se senior span te speel
# Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap het sy vise-kanselier, Sakhela Buhlungu, voorlopig geskors na bevindinge van aanstellings-onreëlmatighede. ‘n Forensiese ondersoek het bestuursmislukkings aan die lig gebring wat senior bestuur betrek, insluitend nie-nakoming van universiteits-prosedures. Die instelling sê die skorsing is nie ‘n skuldigbevinding nie, maar laat dissiplinêre stappe toe. Die adjunk-visekanselier vir Navorsing, Vennootskappe en Vernuwing, Nthabi Taole-Mjimba, is as waarnemende visekanselier aangestel. Die universiteit het personeel en studente verseker dat maatreëls ingestel is om bestendigheid te handhaaf tydens die proses.
# Die Nkabinde-kommissie wat ondersoek instel na die geskorste Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se bevoegdheid om sy amp te beklee, het vir die Paas-reses verdaag. Chauke het gister sy besluit verdedig om die moord-aanklag teen die gewese hoof van Misdaadintelligensie, Richard Mdluli, terug te trek. Die kommissie se woordvoerder, Tiyisela Mpuzana, sê die sitting sal volgende Woensdag hervat word wanneer bykomende getuies na verwagting geroep sal word:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ‘n driejaar-infrastruktuurbegroting van 40-miljard-rand ter tafel gelê. Dis ʼn Suid-Afrikaanse rekord in infrastruktuurbelegging wat meer is as al die Gautengse metro’s saam. Hill-Lewis sê net in die huidige ampstermyn sal sowat 130-duisend boubedryf-verwante werksgeleenthede uit kapitale belegging geskep word. Hy sê 75-persent van die infrastruktuur-besteding sal lae-inkomste-huishoudings regstreeks bevoordeel:
Steeds in die Wes-Kaap:
# Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het goeie vordering gemaak teen die brand wat in die berge tussen De Doorns en die Koo-vallei woed. Dit het Saterdgaand uitgebreek. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Anesca Roodt, sê koeler nagtemperature het brandbestryders sover gehelp om die brandlyn aan die kant van De Doorns in bedwang te hou:
# Krieket: Oproepe neem toe dat die tienersensasie Vaibhav Suryavanshi sy buiging vir Indië se senior span moet maak na indrukwekkende spel vir Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga. Die 15-jarige het 50 lopies van 15 balle gemoker en sy span gehelp tot ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Chennai Super Kings. Hy het verlede jaar in sy eerste seisoen ‘n honderdtal van net 35 balle gemoker. Die voormalige Indiese draaibouler Anil Kumble vergelyk Suryavanshi met die legendariese kolwer Sachin Tendulkar, wat op 16 vir Indië begin speel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-477-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-720-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….