Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth het sy skorsing uitgedien en is beskikbaar vir die Haaie vir Vrydag se Uitdaagbeker-wedstryd teen Connacht in Ierland. Hy is in November vir 12 weke geskors na ‘n oogkrap-voorval in die toets teen Wallis. Etzebeth is nie toegelaat om te speel nie, maar was baie betrokke by die Haaie se oefening om fiks te bly en het hy ook die Bokke se onlangse belyningskamp bygewoon. Die Durbanse span het in 2024 die Uitdaagbeker gewen.
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan het ‘n wêreldrekord-lopieteiken gehaal om Suid-Afrika met twee paaltjies te klop in die tweede van drie eendagwedstryde in Wellington. Die Proteas het 346 vir ses aangeteken met Anneke Bosch wat 91 van 90 balle aangeteken het. Die gasvroue se kaptein, Amelia Kerr, het daarna ʼn onoorwonne 179 van 139 balle gemoker om die White Ferns na oorwinning te lei met twee balle oor. Dis die hoogste suksesvolle lopie-jaagtog in die geskiedenis van vroue-eendagkrieket. Die beslissende wedstryd vind Saterdag plaas.
Nog krieketnuus: Oproepe neem toe dat die tienersensasie Vaibhav Suryavanshi sy buiging vir Indië se senior span moet maak na indrukwekkende spel vir Rajasthan Royals in die Indiese Premierliga. Die 15-jarige het 50 lopies van 15 balle gemoker en sy span gehelp tot ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Chennai Super Kings. Hy het verlede jaar in sy eerste seisoen ‘n honderdtal van net 35 balle gemoker. Die voormalige Indiese draaibouler Anil Kumble vergelyk Suryavanshi met die legendariese kolwer Sachin Tendulkar, wat op 16 vir Indië begin speel het.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê daar is talle gebiede waaraan hulle moet werk voor die Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika het gisteraand in Kaapstad geleenthede verspeel in ʼn vriendskaplike wedstryd teen Panama. Hulle kragmeting in Durban Vrydag het gelykop geëindig met een-elk. Broos sê hulle kon tien keer in die twee wedstryde doele aanteken, maar het met slegs twee doele geslaag en dis nie goed genoeg nie:
En die viermalige kampioen, Italië, kon die derde agtereenvolgende keer nie vir die Wêreldbekertoernooi kwalifiseer nie toe hulle hul kwalifiseerder teen Bosnië en Herzegovina verloor het. Die Demokratiese Republiek die Kongo het Jamaika 1-0 geklop om die eerste keer sedert 1974 te kwalifiseer. Die Tsjeggiese Republiek het die eerste keer in 20 jaar gekwalifiseer toe hulle Denemark in ‘n doelskopstryd geklop het. Swede en die Tsjeggiese Republiek het ook gekwalifiseer vir die toernooi in Amerika, Kanada en Mexiko.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….