Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 April 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê die land se nuwe beleggingsveldtog het reeds byna 890-miljard-rand in beloftes gerealiseer. Hy sê hyskrane en konstruksietoerusting sal binnekort landwyd gesien word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Bela-regulasies vir swanger leerders is vir kommentaar gepubliseer. Hiervolgens sal skole meubels, geriewe en toerusting moet aanpas om voorsiening te maak vir swanger leerders.
Tweedens skryf die webblad die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina sê volgens haar departement se Bloudruppelverslag is die drinkwater by munisipaliteite veilig.
En laastens is daar nuus oor die KKNK wat vanjaar sy 30ste bestaansjaar vier.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die uitvoerende hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie, advokaat Makhosini Msibi, het voor die besige Paas-reisperiode ‘n streng waarskuwing aan verkeersbeamptes uitgereik dat hulle onmiddellik ontslaan sal word as hulle betrek word by omkopery, korrupsie of wangedrag.
# Sowetan:
Berig ‘n baie groot deel van die gemeenskap wat van paraffien afhanklik is, sal voortaan dubbel moet betaal. Die koerant skryf inwoners sê hulle sal moet terugskakel na brandhout.
# En The Citizen:
Skryf die Stad Johannesburg se basiese dienslewering het reeds in duie gestort sedert die metro se loonooreenkoms ten bedrae van 10,3-miljard-rand. Daar is nie meer geld in instandhoudingsbegrotings oor nie en inwoners sal self moet opdok.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die brandstofprysstygings en die verligting wat die regering toegestaan het. Die brandstofheffing van drie-rand per liter is vir een maand opgeskort om verbruikers te help, maar die stap kos die regering sowat ses-miljard-rand. Die koerant gee ook die volledige prysuiteensetting.
En tweedens publiseer die koerant ‘n volledige uiteensetting van die stand van damvlakke in die Wes-Kaap. Die gemiddelde syfer vir die provinsie staan op 45-persent.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, het ‘n mosie van wantroue oorleef, maar sal steeds ernstige vrae oor dienslewering moet beantwoord.
En tweedens skryf die koerant ook oor die regering se verligting deur brandstoftariewe te sny.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisie het opgetree teen ‘n plaaslike sekuriteitshoof wat na bewering by misdaad betrek word.
En tweedens berig die koerant oor taxitariewe wat gaan styg as gevolg van die brandstofprysstygings.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Hoërhof het sy reëls gewysig om prosedures met betrekking tot die waardasie van vaste eiendom wat in eksekusie verkoop word, te verskerp.
En tweedens skryf die koerant die Nasionale Erfenisraad van Namibië het ’n aansoek ontvang om een van Windhoek se mees herkenbare en geskiedkundige geboue in ’n boetiekhotel te omskep.