Nuus 06:00
BULLETIN 1 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die land het ‘n nuwe fase met rekord-beleggingsbeloftes betree
# Iran se president sê sy land is bereid om onder voorwaardes die oorlog te beëindig
# En rugby: Eben Etzebeth keer terug nadat hy sy 12 week lange skorsing uitgedien het
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het ‘n nuwe groeifase betree, met die land wat die hoogste beleggingsbeloftes ooit by die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie verseker het. Dit sluit in ‘n belegging van 10,4-miljard-rand deur Toyota in KwaZulu-Natal om die motorsektor se energie-oorgang te ondersteun, terwyl Sasol 60-miljard-rand beloof het vir die modernisering van bedrywighede in Mpumalanga en die Vrystaat. Ramaphosa het die konferensie gister in Sandton afgesluit en gesê die hervormingsagenda het bewys dat dit beginselvas en meetbaar is:
Ramaphosa het ook gewaarsku dat, hoewel die sentiment verbeter het, die land nou beloftes in tasbare ekonomiese aktiwiteite moet omskakel. Hy het gesê daar is ‘n gaping tussen verbeterde sentiment aan die een kant en groter kapitaalontplooiing wat lei tot sterk groei en werkgeleenthede aan die ander kant:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika is onder die wêreld se top vyf streke vir hernubare energie-opbrengste, danksy kragtige sonuitstralings en sterk windhulpbronne. Ramokgopa het tydens die beleggerskonferensie in Sandton die korridor tussen die Noord-Kaap en Namibië as ‘n sleutelsone uitgelig danksy politieke bestendigheid en goeie infrastruktuur. Die minister het planne, insluitend groot netwerkuitbreidings oor 15 jaar, uiteengesit om toekomstige energiebehoeftes te ondersteun:
# Die Nigeriese Hoë Kommissariaat het verskoning gevra na ontsteltenis oor ‘n kulturele geleentheid in KuGompo-stad, voorheen Oos-Londen, in die Oos-Kaap. Dit volg na die beweerde kroning van hoofman Solomon Ogbonna Eziko as die Igbo-koning op 14 Maart, wat tot hewige teenreaksie, gewelddadige protesoptogte en brandstigting in die provinsie gelei het. Die Kommissariaat het homself gedistansieer en die geleentheid as nie-amptelik beskryf en gesê dit is verkeerd geïnterpreteer. Hy het ook respek vir Suid-Afrikaanse tradisionele leierskap herbevestig en kalmte en samewerking in die toekoms aangemoedig.
# Die Iranse president, Masoud Pezeshkian, sê sy land is bereid om ‘n einde te maak aan die oorlog met die VSA en Israel, solank sekere vereistes nagekom word. Hy het die VSA beskuldig dat hulle diplomasie ondermyn en beweer dat sy land aangeval is terwyl onderhandelinge aan die gang was. Pezeshkian het Iran se standpunt herhaal dat enige resolusie waarborge teen toekomstige aanvalle moet insluit. Hy het bygevoeg dat hulle op geen stadium spanning of oorlog gesoek het nie en gesê die oplossing om die situasie te normaliseer, is die staking van die aggressiewe aanvalle deur die VSA en Israel.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth het sy skorsing uitgedien en is beskikbaar vir die Haaie vir Vrydag se Uitdaagbeker-wedstryd teen Connacht in Ierland. Hy is in November vir 12 weke geskors na ‘n vinger-in-die-oog-insident in die toets teen Wallis. Etzebeth is nie toegelaat om te speel nie, maar hy was baie betrokke by die Haaie se oefensessies om fiks te bly en hy het ook die Bokke se onlangse belyningskamp bygewoon. Die Durban-span het in 2024 die Investec Uitdaagbeker gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-95-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-670-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….