Nuus 14:00
BULLETIN 31 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp ‘n aansoek om Andy Mothibi se aanstelling as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nietig te verklaar
# Ramaphosa bevestig aan internasionale beleggers dat Suid-Afrika gereed is vir sake
# En sokker: ‘n Opname toon die meeste Premierliga-ondersteuners wil hê die video-assistentskeidsregters moet afgeskaf word
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n aansoek van die hand gewys om Andy Mothibi se aanstelling as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nietig te verklaar. Die aansoek is gebring deur Barnabas Xulu van die regspraktyk B Xulu en Vennote, maar die hof het beslis sy betoë het nie regsbevoegdheid nie. Die hof het gelas president Cyril Ramaphosa het prosedureel rasioneel opgetree deur Mothibi sonder ‘n openbare raadgewende paneel aan te stel, aangesien die oorspronklike siftingsproses afgehandel is sonder om ‘n geskikte kandidaat te identifiseer.
# Ramaphosa het beleggers versoek om geleenthede in Suid-Afrika aan te gryp. Hy het op die beleggingskonferensie in Johannesburg gesê Suid-Afrika is gereed om sake te doen aangesien die G20-presidentskap sy wêreldwye aansien versterk en verbintenisse vanaf 15 markte gelok het. Hy sê meer as een-duisend-200 afgevaardigdes van meer as 50 lande wat die konferensie bywoon, toon sterk vertroue in die land se langtermyn-groeimoontlikhede:
# Die Vryheidsfront Plus sê die Ekurhuleni-munisipaliteit worstel nie net met finansiële uitdagings nie, maar ervaar ook ‘n ernstige krisis in bestuur en verantwoordbaarheid. Die Gautengse metro het weer ‘n gekwalifiseerde ouditmening vanaf die Ouditeur-generaal ontvang vir die 2024/25-boekjaar. Denise Janse van Rensburg van die VF Plus sê die verslag bevestig onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes, wat beteken belastingbetalers se geld word steeds wanbestee sonder enige gevolge:
# Die Suid-Afrikaanse tak van die Teen-Apartheidsbeweging vra die regering om standpunt in te neem teen die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Die beweging se voorsitter, Frank Chikane, sê hulle vra ook dat Amerikaanse militêre basisse in Wes-Asië en Afrika verwyder word en sanksies onmiddellik teen Israel ingestel word. Chikane sê die wêreld kan die oorlog teenstaan of die wêreld verdoem tot barbaarsheid, geweld en onderdrukking.
# Sokker: ‘n Opname deur die Sokkerondersteunersvereniging toon dat meer as driekwart van Premierliga-ondersteuners wil hê die video-assistent-skeidsregterstelsel moet afgeskaf word. Ses-en-sewentig persent van byna agt-duisend ondersteuners was gekant teen die stelsel, terwyl 97-persent sê dit het sokker minder aangenaam gemaak. Aanhangers het ook vertragings en verminderde spontaniteit in wedstryde gekritiseer. Die liga dring nogtans aan dat die stelsel akkuraatheid verbeter en sê dit word steeds wyd ondersteun word, maar beter inwerkingstelling is nodig. Hy sê daar sal waarskynlik nie groot veranderings wees in die nabye toekoms nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-377-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….