Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 31 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die eerste Nasieskampioenskapstoetse gaan ‘n opwindende uitdaging wees. Die Bokke skop hul veldtog op 4 Julie in Johannesburg teen Engeland af, speel ‘n week later in Pretoria teen Skotland en op 18 Julie in Durban teen Wallis. Erasmus sê al drie spanne sal inspirasie put uit die onlangse uiters mededingende Sesnasiesreeks, terwyl die Bokke se seisoen nou eers begin. Hy sê die Bokke sal uit die staanspoor voluit moet speel om so mededingend moontlik te wees.
Veertien Springbokke is intussen ingesluit in die Bulle se toergroep van 33 vir die naweek se Kampioenebeker-kragmeting met Glasgow Warriors in Skotland. Die Bokke sluit in Handrè Pollard, Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie. Die jong spelers Cheswill Jooste en Reinhardt Ludwig is ook ingesluit ná goeie prestasies die afgelope weke. Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê die wedstryd teen Glasgow gaan ‘n groot uitdaging wees:
# Krieket: Northamptonshire se hoofafrigter, Darren Lehmann, glo Engeland se internasionale spelers speel nie genoeg graafskapskrieket nie en plaaslike talent word ignoreer. Dit volg op Engeland se probleme in die onlangse toetsreeks om die As teen Australië. Lehmann het aan Engeland se besturende direkteur, Rob Key, en toetskaptein Ben Stokes gesê hy het nie ‘n Engelse keurder gesien gedurende sy eerste jaar in beheer nie. Sy kolwer, Saif Zaib, is oor die hoof gesien vir die Engelse Leeus se toer al het hy een-duisend-425 lopies in die laaste seisoen aangeteken.
# Tennis: Die internasionale kleibaanseisoen begin ná die twee hardebaantoernooie in Amerika. Onder die manstoernooie is die ATP-meesters-eenduisend-toernooie in Monte Carlo, Madrid en Rome, terwyl die vroue sal meeding in die WTA-eenduisend-toernooie in Madrid en Rome, en ander geleenthede. Die seisoen bereik ‘n hoogtepunt met die kleibaan-Grand Slam-toernooi, die Franse Ope, wat einde Mei in Parys begin. Carlos Alcaraz van Spanje en die Amerikaner Coco Gauff is die verdedigende kampioene.
# En Olimpiese Spele: Kaartjieverkope vir 2028 se Spele in Los Angeles, Amerika, open volgende Donderdag vir die algemene publiek. Dit word voorafgegaan deur ‘n voorverkoping vir inwoners van L-A en Oklahoma City. Die organiseerders sê ‘n miljoen van die goedkoopste kaartjies sal beskikbaar wees teen 478-rand, ongeveer vyf-persent van die kaartjies sal meer as 17-duisend rand kos, en ander pryse wissel tussen drie-duisend-400- en ses-duisend-800-rand. ‘n Gemagtigde program vir herverkope sal volgende jaar open.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….