Nuus 12:00
BULLETIN 31 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geen oliestorting of beserings is aangemeld nadat Iran ‘n volgelaaide tenkskip in Doebaise gebiedswater aanval nie
# Die Stad Johannesburg waarsku staatsdepartemente om te betaal of afgesny te word
# En rugby: Die Springbok-afrigter sê die Nasieskampioenskapstoetse teen Engeland, Skotland en Wallis gaan uitdagend wees
# ‘n Volgelaaide Al-Salmi-olietenkskip onder Koeweit se vlag is vroeg vanoggend in Doebaise gebiedswater deur ʼn Iranse hommeltuig aangeval. Die vaartuig met twee-miljoen vate olie aan boord was op pad na China toe dit aangeval is en ʼn brand uitgebreek het. Geen oliestorting of beserings is aangemeld nie. Die voorval is die jongste in ʼn reeks aanvalle met missiele of lug- en seehommeltuie op handelsvaartuie in die Persiese Golf sedert die oorlog verlede maand uitgebreek het.
Intussen is Johannesburg se maatstaf-aandele-aanwyser op pad na sy swakste maand in byna twee dekades omdat die Iranse oorlog die vraag na ontluikende markbates laat kwyn terwyl dalende edelmetaalpryse die winsgewendheid van Suid-Afrika se mynmaatskappye belemmer. Die FTSE/JSE Alle Aandele-aanwyser het teen Vrydag met 13-persent gedaal. Bloomberg-data toon dat dit die meeste is sedert die hoogtepunt van die wêreldwye finansiële krisis in September 2008. Die edelmetaal- en mynbousektor, wat ‘n kwart van die aanwyser se gewig uitmaak, het met 27-persent getuimel sedert die begin van die Midde-Oosterse konflik.
# Die Stad Johannesburg het sy inkomste-invordering verskerp en waarsku staatsdepartemente wat groot bedrae skuld dat hulle dienste beslis afgesny gaan word. Die metro probeer skuld van 1,4-miljard-rand invorder. Woordvoerder Nkosana Lekotjolo sê hulle het verlede week die kragvoorsiening afgesny na ʼn gebou wat die Gautengse Gesondheidsdepartement en ander provinsiale departemente huisves. Hy sê die departement se gesamentlike skuld op al sy munisipale rekeninge beloop meer as 200-miljoen-rand:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die eerste Nasieskampioenskapstoetse gaan ‘n opwindende uitdaging wees. Die Bokke skop hul veldtog op 4 Julie in Johannesburg teen Engeland af, speel ‘n week later in Pretoria teen Skotland en op 18 Julie in Durban teen Wallis. Erasmus sê al drie spanne sal inspirasie put uit die onlangse uiters mededingende Sesnasiesreeks, terwyl die Bokke se seisoen nou eers begin. Hy sê die Bokke sal uit die staanspoor voluit moet speel om so mededingend moontlik te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-375-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-569-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: ActionSA het sy Burgersondersteunings- en ingrypings-hulptoonbank bekendgestel en sê te veel mense is vasgevang in ‘n stelsel wat nie reageer, oplos of omgee nie. Die hulptoonbank sal voorkeur gee aan sleutel-ingrypingsgebiede, insluitend Binnelandse Sake, Wetstoepassing, Maatskaplike Toelaes en Munisipale Dienste. Lerato Ngobeni van ActionSA sê voorleggings wat deur die aanlyn portaal ontvang word, sal deur die party se parlementêre span beoordeel en amptelik na die betrokke departemente verwys word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….