Nuus 09:00
BULLETIN 31 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BLSA sê die Nasionale Vervolgingsgesag moet goed toegerus wees
# Saftu eis die skrapping van die algemene brandstofheffings
# En Celine Dion keer seëvierend terug na die verhoog
# Business Leadership South Africa sê die Nasionale Vervolgingsgesag se hervorming moet voortgaan met diepgaande veranderinge om sy onafhanklikheid te beskerm. Die organisasie ondersteun die NVG met duidelike riglyne wat sy onafhanklikheid beskerm, en is betrokke by ‘n fonds wat top-vlak forensiese vaardighede uit die privaat sektor bied om sake te help bou. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die NVG moet finansieel en operasioneel onafhanklik wees van die Departement van Justisie. Sy sê die NVG maak staat op ʼn werkende en doeltreffende polisiemag om sake te ondersoek, te bou en misdadigers te arresteer.
# Die vakbondfederasie Saftu sê hy ondersteun arbeidsorganisasies se oproep vir onmiddellike regeringsoptrede oor brandstofprysstygings. Die Sentrale Energiefonds raam dat die petrolprys om middernag met nagenoeg ses rand per liter kan styg en diesel met sowat tien rand per liter. Asife Dyani van Saftu sê die regering moet die algemene brandstofheffing skrap en prysmeganismes en openbare regulering van brandstofprysbepaling instel.
# Die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane het die geweld en wetteloosheid tydens ʼn betoging in KuGompo-stad, voorheen Oos-Londen, veroordeel. Dit gaan oor die sogenaamde kroning van hoofman Solomon Ogbonna Eziko as die “Igwe Ndigbo” van KuGompo. Woedende betogers het talle voertuie aan die brand gesteek en plaaslike sakeondernemings geteiken. Die premier se woordvoerder, Sonwabo Mbananga, sê die Nigeriese diplomatieke sending het verduidelik dat die omstrede geleentheid kultureel van aard was en nie ʼn poging om territoriale soewereiniteit te verklaar nie:
# Krieket: Die 15-jarige Vaibhav Sooryavanshi het geskitter met die kolf en bygedra tot die Rajasthan Royals se oorwinning van agt paaltjies oor die Chennai Super Kings in hulle eerste Indiese Premierliga-wedstryd in Guwahati. Nandre Burger, Jofra Archer en Ravindra Jadeja het elkeen twee paaltjies platgetrek en die Super Kings was na 19 boulbeurte en vier balle almal uit vir ʼn skamele 127. Daarna het Sooryavanshi 52 van net 17 balle gemoker en kaptein Yashasvi Jaiswal het ʼn onoorwonne 38 van 36 balle aangeteken. Rajasthan wen gemaklik met 47 balle wat oorbly.
# Die uiters gewilde sangeres Celine Dion keer in September na die verhoog terug met ‘n reeks van tien konserte in die Paris La Défense-arena in Parys met 40-duisend sitplekke. Die 58-jarige Dion is in 2022 met die seldsame outo-immuunsiekte Stywe Persoon-sindroom gediagnoseer wat ‘n mens se beweging en spraakvermoë aantas. Dion, wat bekend is vir haar kragtige ballades soos My Heart Will Go On en Because You Loved Me, sê sy voel goed, bestuur haar gesondheid en kan nie wag om weer op die verhoog te wees nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-572-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….