Nuus 08:00
BULLETIN 31 Maart 8 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir ‘n dringende parlementêre debat oor die brandstofprysstygings
# Die parlementêre ad hoc-komitee sal waarskynlik nog ‘n verlenging van sy sperdatum versoek
# En rugby: Tuks, Arende, Maties en UJ is deur na die Varsitybeker-halfeindronde
# Die DA het aan die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, geskryf en ‘n dringende sitting aangevra om die brandstofprysstygings te bespreek. Volgens die Sentrale Energiefonds se huidige vooruitskatting gaan die petrolprys van môre af met sowat ses-rand per liter styg en dié van diesel met ongeveer tien-rand per liter. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ʼn komitee aangestel om die uitwerking van die Midde-Oosterse konflik in sy geheel te bekyk, wat die olieprysstyging insluit. Mark Burke van die DA sê dis ʼn saak van nasionale belang:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging doen ‘n beroep op die regering om dringend brandstofheffings te verminder, aangesien Suid-Afrikaners vanaf Woensdag hul skerpste petrol- en dieselprysstygings nog ooit gaan ervaar. Die styging, aangevuur deur wêreldwye olieskokke, kom terwyl elektrisiteitstariewe ook styg, wat huishoudings onder ernstige finansiële druk plaas. Phakamile Hlubi-Majola van MISA waarsku werkers word onder druk geplaas, gesinne moet moeilike keuses maak en werkgeleenthede in die motorbedryf word in gevaar gestel:
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, vergader vandag om te bespreek of die sperdatum weer uitgestel moet word. Die Nasionale Vergadering het in Februarie ingestem dat die komitee se sperdatum om sy verslag te voltooi die derde keer uitgestel word, dié keer tot 31 Maart. Die komitee het sedert sy stigting in Julie verlede jaar byna 30 getuies aangehoor en sowat 300 skriftelike voorleggings ontvang. Volgens berigte werk die komitee tans aan sy voorlopige verslag.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Amerika en Israel se oorlog teen Iran het meer as die helfte van sy doelwitte bereik, maar wou nie sê wanneer dit verby sal wees nie. Die Israelse weermag het die afgelope 24 uur 170 teikens van die Iranse regime getref en sê dit sluit persele in wat verbind word met wapennavorsing en -vervaardiging. Netanyahu het aan die Amerikaanse TV-maatskappy, Newsmax, gesê die Arabiese State in die Golf moedig Amerika in die geheim aan om militêre optrede teen Iran te versnel en hard toe te slaan:
# Rugby: Die Universiteit van Pretoria se Tuks bly bo-aan die Varsitybeker-punteleer met ʼn oortuigende 51-22 oorwinning oor die Universiteit van Johannesburg, wat die halfeindronde gehaal het. Die Noordwes-universiteit se Arende is ook in die halfeindronde nadat hulle die verdedigende kampioene, die Universiteit van Kaapstad se Ikeys, naelskraaps met 56-53 geklop het. Die Maties van Stellenbosch het ook die halfeindronde bereik nadat hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie se Ixias met 45-23 verslaan en dié span se outomatiese relegasie bevestig het. Die nuwelinge, Emeris, het die Universiteit van die Vrystaat se Shimlas met 41-19 verpletter.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-792-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….