Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die MK-party kon nie daarin slaag om Shamila Batohi se pensioenuitbetaling te blokkeer nie. Die hof het die dringende aansoek verwerp nadat die Presidensie aangevoer het die saak het geen gronde nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig vyf verdagtes is in hegtenis geneem vir die moord op Steven Gruzd. Hy was verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede.
Tweedens skryf die webblad oor die gewelddadige betoging teen die kroning van die Nigeriese Igbo-koning in KuGompo-stad [Oos-Londen]. Verskeie voertuie is uitgebrand en sakeondernemings van Nigeriërs is beskadig.
En laastens is daar nuus oor die jongste Ipsos-meningsopname wat vasgestel het dat bykans 50-persent van Suid-Afrikaners nie deur ‘n politieke party verteenwoordig word nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het planne aangekondig om ‘n regsfirma aan te stel om ‘n onafhanklike ondersoek te doen na die omstandighede rondom die ineenstorting van ‘n muur by die Lerutle Primary School in Daveyton. Tydens die voorval op 26 Maart is die 8-jarige graad 3-leerder, Lwazi Motuse, dood.
# Sowetan:
Berig daar wag ‘n skok op pendelaars aangesien taxi-tariewe die hoogte gaan inskiet. Daar is ook sprake van die rantsoenering van brandstof wat die bedryf van vervoerondernemings moeilik maak. Die koerant skryf busmaatskappye het by die regering aangeklop vir hulp.
# En The Citizen:
Skryf die landboubedryf plaas die regering onder druk om brandstoftariewe te skrap sodat landbouproduksie nie ineenstort nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die stormloop vir brandstof het begin. Daar is reeds vulstasies in die Wes-Kaap waar die beskikbaarheid van diesel en huishoudelike gas beperk is. Die koerant skryf die tendens kom veral ook op die platteland voor. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die naweek aan die kabinet opdrag gegee het om oplossings vir die krisis te vind.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n ongeluk op die R-45 tussen die Swartland en die Weskus waarin ses mense omgekom het en ander beseer is. Die ongeluk het Sondagmiddag plaasgevind toe ‘n Volkswagen Polo en Isuzu-bakkie reg van voor gebots het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse sitrusbedryf hou die Midde-Oosterse konflik gespanne dop aangesien dit ‘n negatiewe uitwerking op uitvoere mag hê.
En tweedens skryf die koerant ‘n inbraak en diefstal by die Rooikruis in die Oos-Kaap het ‘n ernstige uitwerking op die werksaamhede van die organisasie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die brandstofprysskok wat oor Paasnaweek op verbruikers wag, en berig oor die moord op ‘n swanger ma en verpleër van Northdale, Aleyka Shaik.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as een-miljard-rand is teen Maart 2026 deur die ministerie van Verdediging en Veteranesake aan toelaes bestee vir 23-duisend-694 veterane.
En tweedens skryf die koerant pasiënte sê hooggeplaastes moet alle staatshospitale besoek en nie net die dele wat opgeknap is nie.