Nuus 18:00
BULLETIN 30 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stigting vir Menseregte verwelkom die bevinding oor die WVK-onttrekking-aansoek
# SANTACO in die Wes-Kaap waarsku oor moontlike taxitarief-verhogings te midde van brandstofprysverhogings
# En, olie styg hoër as 115-dollar, terwyl aandele in Asië daal met die Iranse oorlog wat die vyfde week betree
# Die direkteur van die Stigting vir Menseregte, Zaid Kimmie, verwelkom die verwerping van voormalige presidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki se aansoek om regter Sisi Khampepe van die Waarheids- en Versoeningskommissie te laat onttrek. Die hof het geen basis gevind vir bewerings van vooroordeel nie. Kimmie het aan Newzroom Afrika gesê die uitspraak laat die kommissie toe om op sy werk te fokus, maar waarsku dat daar steeds appèl aangeteken kan word:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in die Wes-Kaap sê taxitariewe kan styg weens die groot brandstofprysverhogings wat vanaf Woensdag ingestel word. Petrol sal na verwagting met vyf-rand per liter styg en diesel met meer as nege-rand per liter. Provinsiale voorsitter, Mandla Hermanus, sê geen finale besluit is nog geneem nie. Verenigings sal eers die uitwerking evalueer voor tariewe aangepas word, met finale besluite wat sal wissel tussen roetes en op plaaslike toestande gerig wees.
# Wêreldwye oliepryse het vandag gestyg en aandele in Asië het skerp gedaal met die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran wat sy vyfde week betree. Die prys van Brent-ru-olie het met meer as drie-persent-gestyg tot meer as 115-dollar, op koers vir sy grootste maandelikse wins nóg. Die Japanese Nikkei 225 het 2,8-persent verloor, terwyl die Kospi in Suid-Korea byna drie-persent laer gesluit het. Dit volg ná Iran-gesteunde Houthi-rebelle in Jemen hierdie naweek ‘n aanval op Israel uitgevoer het en Iran dreig met vergeldingsaanvalle teen universiteite en wonings van Amerikaanse en Israelse amptenare.
# Motorsport: Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, oorweeg dit om die einde van die Formule Een-seisoen uit te tree, want hy geniet nie meer die sport nie. Die Nederlander is krities oor die nuwe enjinregulasies, met Red Bull wat hierdie seisoen sy eie kragbron ontwikkel het. Verstappen, wat agtste was in gister se Japannese Grand Prix, ontken dat twyfel oor sy toekoms veroorsaak is deur Red Bull se gebrek aan mededingendheid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-420-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-520-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-17-sent per vat.
# En laastens, die Gautengse Gesondheidsdepartement werk saam met Life Healthcare en die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes om ‘n katarakoperasie-marathon in twee fases uit te voer om agterstande te verklein. Meer as nege-duisend pasiënte wag tans vir behandeling. ʼn Woordvoerder van die departement, Virginia Mawela, sê 334 operasies is onlangs by die Thelle Mogoerane-streekshospitaal en die Pholosong-hospitaal gedoen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….