Nuus 15:00
BULLETIN 30 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Medicare24 se uitvoerende hoof ontken Jeff Wicks se bewerings oor die polisie se tenderondersoek
# Israel ondervind ‘n tweede aanval vanaf Jemen terwyl die Midde-Oosterse konflik vererger
# En rugby: Joe Lewis is aangestel as die Springbokspan se prestasie-ontleder
# Medicare24 se uitvoerende hoof, Mike van Wyk, veroordeel die ondersoekende joernalis van News24, Jeff Wicks, oor ‘n polisie-tender van 360-miljoen rand. Dit volg op die vrystelling van ‘n video getiteld “Who Is Mike van Wyk?” te midde van voortgesette ondersoeke na beweerde korrupsie rondom ‘n kontrak vir beroepsgesondheidsdienste wat in 2024 aan Medicare24 in die Tshwane-distrik toegeken is. Die saak betrek die sakeman Vusimuzi Matlala. Van Wyk ontken enige oortreding, hou vol sy onderneming is daarvan verwyder en weier om te bevestig of hy ‘n staatsgetuie is.
# Die ANC-Jeugliga eis ‘n volledige oudit en stelselhersiening van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om onmiddellik data-bevestiging met Binnelandse Sake en ander departemente te verseker. Die Ouditeur-generaal het onthul NSFAS het voortgegaan om beurse te betaal aan meer as 800 begunstigdes wat reeds dood is. Woordvoerder Sindiswa Scheepers sê dis onaanvaarbaar dat openbare hulpbronne verkeerd aangewend word weens swak stelsels, swak prosesse en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid:
# Die beweging Soil of Africa vra alle Suid-Afrikaners om hul gewig agter tradisionele leiers te gooi en saam te werk om bendegeweld in gemeenskappe te beveg. Vyf mense is die naweek in afsonderlike voorvalle doodgeskiet in Gugulethu en Philippi-Oos in Kaapstad. Die voorsitter van die beweging, Bongani Ramontja, sê dié voorvalle van geweld kom nie lukraak voor nie, maar verteenwoordig ‘n groter probleem in die land:
Nuus uit die buiteland:
# Die Israelse Weermag sê Iran het vandag talle missiele op Israel afgevuur en ‘n aanval is ook uit Jemen geloods vir die tweede keer sedert die Amerikaans-Israelse oorlog begin het. Twee hommeltuie van Jemen is vroeg vanoggend onderskep. Die Irans-gesteunde Houthi-vegters het Saterdag die oorlog betree en missiele op Israel afgevuur, wat die situasie vererger het. Die jongste aanvalle volg ‘n dag nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het sy land en Iran het regstreeks en onregstreeks vergader.
Nou sportnuus:
# SA Rugby het die voormalige tegniese ontleder van Engeland, Scarlets en Ospreys, Joe Lewis, aangestel as prestasie-ontleder in die Springbok-bestuurspan. Hy sal by die span aansluit voor die toetsseisoen op 20 Junie teen die Barbarians afskop. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê hy glo Lewis sal groot waarde tot die groep toevoeg, gegewe sy uitgebreide ervaring in tegniese en prestasie-ontleding op internasionale en klubvlak, terwyl hulle voorberei vir ‘n besige seisoen voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-488-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-538-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….