Nuus 12:00
BULLETIN 30 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se afhanklikheid van diesel wek kommer oor kragtekorte met die prysstygings wat voorlê
# Statistieke SA teken ‘n kuberveiligheidskending aan wat sy menslike hulpbronne-databasis raak
# En rugby: Die Springbokvroue-sewes eindig vyfde in Sao Paulo
# Kenners waarsku dat Suid-Afrika se afhanklikheid van diesel om kragtekorte te verlig, ‘n groot ekonomiese risiko inhou namate brandstofpryse styg. Ontleders sê die styging kan elektrisiteitskoste, voedselpryse en vervoerkoste verhoog, wat bykomende druk op huishoudings en sake-ondernemings plaas. Die rubriekskrywer Richard Anthony Chemaly het aan Citizen gesê die voortgesette afhanklikheid van ingevoerde brandstof en infrastruktuuruitdagings stel die land steeds bloot aan globale skokke, wat kommer wek oor langtermyn-energiesekerheid en ekonomiese bestendigheid.
Intussen vra die Nasionale Taxi-alliansie regeringsingryping met die brandstofpryse wat Woensdag skerp styg en ‘n bedreiging inhou vir die taxibedryf en pendelaars. Woordvoerder Theo Malele het aan SABC News gesê sonder ondersteuning sal tariefverhogings onvermydelik wees en die vervoersektor, insluitend leerdervervoer, beïnvloed. Malele bepleit die vermindering van brandstofheffings om die uitwerking vir pendelaars te versag:
# Statistieke SA het ‘n kuberveiligheidskending aangemeld, beperk tot ‘n enkele menslike hulpbronne-databasis wat werksoekers gebruik vir aanlyn aansoeke. ‘n Kubermisdaadgroep bekend as XP95 het aanspreeklikheid aanvaar. Die groep het volgens berigte ongeveer 1,7-miljoen-rand geëis om nie die gesteelde data vry te stel nie. Statistieke SA verklaar hy sal nie ‘n losprys betaal nie en werk saam met die Inligtingsreguleerder en breër regerings-kuberveiligheidsreaksiespanne om die uitwerking van die skending te ondersoek.
# Rugby: Die Springbokvroue het vyfde geëindig in die wêreldsewestoernooi in Sao Paolo, Brasilië. Suid-Afrika het Saterdag 19-5 teen Spanje verloor en daarna 14-5 teen Kenia, maar toe die gasvroue 26-12 geklop. ‘n Uitgedunde Bokspan met vyf beseerde spelers het gister 19-5 teen Argentinië verloor en hul laaste wedstryd teen China 14-10 gewen. Die Bok-vroue het reeds gekwalifiseer vir die Sewes-wêreldkampioenskap wat volgende maand in Hongkong begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-699-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-527-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: eThekwini se burgemeester, Cyril Xaba, sê Durban is gereed vir die Paasvakansie en verwag sowat 1,2-miljoen besoekers in die stad. Dit sal na raming ‘n kontantinspuiting van 2,6-miljard-rand vir die plaaslike ekonomie beteken. Xaba sê die gemiddelde verblyfbesetting sal na verwagting 62-persent wees terwyl sowat 16-duisend werksgeleenthede geskep sal word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….