Nuus 09:00
BULLETIN 30 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp beleid wat poog om die koste van elektrisiteit en water te verhoog
# FOSA vra dat minister McKenzie afgedank word oor bewerings deur ‘n gevangene
# En meer as 8 miljoen mense het aan die No Kings-betogings teen Trump deelgeneem
# Die EFF in Gauteng verwelkom die aanvaarding van ‘n mosie om die behoeftigheidsbeleid te wysing en die munisipale skuld van huishoudings wat behoeftig voorkom, in Tshwane af te skryf. EFF-woordvoerder Dumisani Baleni sê die huishoudings is te lank in ʼn skuld-kringloop vasgekeer – nie omdat hulle nie wil betaal nie, maar omdat hulle nie basiese dienste kan bekostig nie:
# Die Forum for South Africa eis onmiddellike en bepalende optrede van die regering om die groot brandstofprysstygings wat Woensdag verwag word, te keer of te verlaag. Die vooruitskatting vir April dui op ʼn moontlike verhoging van meer as vyf-rand per liter vir petrol en byna nege-rand per liter vir diesel. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dit kom neer op ekonomiese geweld teen die mense van Suid-Afrika. Hy sê verhogings sal huishoudings verlam, klein sakeondernemings vernietig en voedsel- en vervoerkoste die hoogte laat inskiet:
# Die vakbond POPCRU in KwaZulu-Natal het Nhlanhla Mkhwanazi se heraanstelling as provinsiale polisiekommissaris verwelkom. POPCRU se sekretaris, Nthabeleng Molefe, sê die heraanstelling kom op ʼn kritieke tyd vir KZN waar gemeenskappe geteister word deur hoë misdaadvlakke, georganiseerde misdaadnetwerke en maatskaplik-ekonomiese probleme wat groot druk op wetstoepassingsagentskappe plaas. Sy sê bestendigheid, ervaring en beslissende leierskap in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is nie ʼn luukse nie, maar ʼn noodsaaklikheid.
# Die organiseerders van die No Kings-betogings Saterdag regoor die VSA en in talle ander lande sê meer as agt-miljoen mense het na raming daaraan deelgeneem. Betogers het protes aangeteken teen die president, Donald Trump, stygende lewenskoste, optrede teen immigrante en die oorlog in Iran. In Minnesota het betogers in ‘n markiestent saamgetrek oor die dood van twee mense in Januarie weens optrede deur immigrasiebeamptes. Die akteur en regisseur Robert De Niro het op ‘n geleentheid in New York gesê dit is tyd om nee te sê vir Trump:
# Krieket: Die Mumbai Indians het hul Indiese Premierliga-veldtog afgeskop met ʼn oorwinning van ses paaltjies oor die Kolkata Knight Riders. Kaptein Ajinkya Rahane het 67 gemoker en bygedra tot die Knight Riders se 220 vir vier in hul 20 boulbeurte. Shardul Thakur het drie paaltjies platgetrek. Daarna het Rohit Sharma en Ryan Rickelton ʼn skitterende openingsvennootskap van 148 lopies aangeteken en die Mumbai Indians het met vyf balle oor gemaklik gewen. Hulle het ook die eerste keer in 14 jaar hul openingswedstryd gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-336-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-487-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….